Hy is moeg, tot die dood toe moeg! Moedeloos kyk hy toe hoedat die taai wit vog deur die krake bars, verwoesting saai. Sy oog vang die geskarrel in die oorkanste hoek. Dit is sy beste vriend, Marnus. Marnus sukkel om die huilende kleintjies in toom te hou, sy vrou, Marie, is vroeër vandag deur die taai wit vog ingesluk. Manie verroer nie ‘n vinger om te help nie, wat help dit inelkgeval. Hulle kan almal netsowel hul lot aanvaar. Dit is verby, hul huis en haard is vernietig, daar is geen uitkomkans nou meer nie. Die dood klink inelkgeval vir hom na ‘n beter opsie as hierdie chaos waarin hy hom nou bevind. Hy kyk toe hoe Marnus een van die kleintjies, seker uit pure frustrasie, ‘n oorveeg gee. Hy staan op, stap woordeloos verby, reguit op die druppende wit vog af. Marnus probeer nog keer, maar aan Manie is daar geen salf te smeer nie, hy het klaar besluit; vandag is sy laaste. Hy word in sy spore gestuit. Hy voel ‘n polsende vibrasie van diep onder uit die aarde – Wat kan dit wees! Dit voel asof die ding hier onder hom aanhou met groei. Die grond onder hom ruk meteens oop. Manie onthou skielik van die vreemde saad wat hy ‘n paar dae gelede hier versteek het.
Sy staar na hom in totale afgryse. Die spuitbottel verstil in haar hande. Hy grynslag as sy paniekerig retireer. Mooi! Hy wil hê dat sy moet voel hoe dit voel om te weet dat jou laaste dag aangebreek het, hy wil hê dat sy moet voel hoe dit voel om angsbevange te besef dat daar vir haar geen uitkom kans meer is nie. Hy kan die vrees aan haar ruik. Hy hou daarvan, die reuk van vrees en paniek. Hy sien hoedat sy die spuitkan lig, na hom mik. Vreesloos beweeg hy nader aan haar. Sy retireer, struikel en val grond toe.
Hy besef dat hierdie sy kans is, sy kans vir vergelding, sy kans om die verwoesting wat sy gesaai het, te wreek, sy verlore geliefdes te wreek. Sy hou die spuitkan verdedigend voor haar. Stadig stap hy steeds op haar af, hy put genot uit haar vrees, haar afgryse en die totale verwarring op haar gesig. Die wraak kom jou nie toe nie, praat sy ma se stem beskuldigend in sy kop. Dit kom my juis toe, liewe Ma, antwoord hy haar woordeloos, sy met haar spuitkan, het jou van my weggevat, het my, ons huis vernietig!
Die groteske insek se wraak is bittersoet as hy sy kake om haar vou, die vrees in haar oë lees, die vrees aan haar ruik, hoor hoe sy roggelend smeek vir genade. Genade? Sy het geen genade gehad terwyl sy triomfantelik sy hele huis, sy hele lewe met haar spuitkan kom ruïneer het nie, nee sy het nie. Die wraak kom my toe, ma! Maal die gedagte saam met haar laaste stuiptrekkkings deur sy kop. Sy wraak is bittersoet.
©Santi Kruger.
Santi Kruger

Ek is Santi en ek is versot op stories maak en dig.
Ek skryf (probeer skryf) in alle genres – ek skryf vir kinders, ek dig en skryf kortverhale. My voorkeur is egter spanningsverhale en rillers. Ek het egter ook my hand gewaag aan ‘n paar humoristiese en romantiese verhale wat ek hoop om in die toekoms met lesers te deel. Ek hoop dat lesers my vertellings sal geniet.
Ek was ook in 2019 betrokke by ‘n liefdadigheidsprojek deur Alta van Zyl van Hope Anointed Ministries. ’n Bundel Spore van Genade was die resultaat daarvan. 40 digters en skrywers se werke is hierin saamgevat en van my gedigte (oor swaarkry, mishandeling, dwelmmisbruik) asook kortverhale kan hierin gelees word. Die opbrengs uit die bundel gaan vir liefdadigheid. Dit is ook by boekwinkels landwyd beskikbaar en ook op Amazon:

