san023: Vrot – Eier

“Ek is jammer mevrou Vermeulen. Maar volgens die verslae hier voor my, u dogter is psigopaties.”

Sy wou dit nie glo nie, wil dit tot vandag toe nie glo nie. Tog, al die tekens was daar, van altyd af. Sy wou dit net nie sien nie.

En vandag? Vandag sal sy saam met Amelia hierdie monster in die gesig moet staar. Sy het lankal besef dat sy nie ‘n ander keuse het nie. As moeder sal sy moet doen wat gedoen moet word.

                                     ~~~~~~~~~~~

Amelia Vermeulen sit smalend in die beskuldigde bank. Sy weet dat die hofsaak net blote formaliteit is. Sy sal los kom, soos al- tyd. Buitendien, haar ma sal hier wees, haar ma sal verduidelik dat sy wat Amelia is nie bedoel het om enigeen seer te maak nie. Dit is net dat sy soms nie besef wat sy doen nie. Sy reageer nog altyd sonder om te dink. ‘n Grynsende glimlag sprei oor die meisie se gesig. En sy dink eintlik het die teef gekry wat haar toekom, niemand soek skoor met Amelia Vermeulen, en kom daarmee weg nie!

                                  ~~~~~~~~~~~~~

Amelda staan op van waar sy voor die spieël doenig was. Daar is ‘n beklemming binne haar, sy sien wragtig nie kans vir hier – die dag nie. Die herhinnering van daardie dag in die dokter se spreekkamer knaag sonder ophou aan haar binneste. As sy net toe wou gehoor gee aan sy vermanings. Maar, sy het nie, sy het aanhou verskonings maak vir haar dogter.

En nou moet sy weereens die kastaings uit die vuur gaan krap, Amelia s’n. Sy sal weer nes vantevore verskoning maak vir haar dogter se gedrag… Dit is per slot van sake nie Amelia se skuld dat sy reageer voor sy dink nie. Is dit?

Vandat sy kon onthou, het sy Amelia nog altyd haar sin gegee. Altyd vir haar in die bresse getree, altyd reggestaan met ‘n hele rits verskonings vir haar dogter se gedrag.

Daardie dag wat sy die hond met ‘n baksteen geslaan het, dit was nie haar skuld nie. Daardie dag wat sy ‘n maat by die skool aangerand het, dit was nie haar skuld nie. Ook nie die kere wat sy stories opgemaak het, en haar dan verlekker het daarin as die ander kinders raas of pakslae kry nie. Of die keer wat sy die juffrou met haar skooltas gegooi het nie, nee, dit was nie haar skuld nie.

Amelda dink aan al die kere wat sy ingeroep is deur die skool se hoof, al die afsprake by dokters, sielkundiges, terapeute.

En nou is daar ‘n meisie dood. Hoe sê ‘n mens vir daardie kind se ouers; Jammer, maar, ongelukkig tree my kind op sonder om te dink, jammer vir jul verlies, maar dit was nie my kind se skuld nie? Jy doen dit nie! Jy kyk die monster vierkantig in die oë. Jy pleit nie meer vir onskuld nie, nee, hierdie ding stop vandag.

                                  ~~~~~~~~~~~~~~~

Mevrou, ek is jammer, soos ek reeds gesê het, al die tekens is daar. Mens kan nou wel eers op die ouderdom van vyftien werklik spesifiseer dat dit wel in u dogter se geval psigoties is.  Ek wil voorstel dat ons u dogter op medikasie sit. Daar is nog verskeie toetse en evaluasies wat sal volg. Miskien sal dit beter wees dat u haar vir hierdie tydperk in ‘n psigiatriese hospitaal laat vir behandeling. Amelda het geweier, volstrek. Sy wou dit nie glo nie, sy sou ‘n tweede, selfs derde, vierde of vyfde opinie kry. Daar was niks fout met haar kind nie! Op vyftien jaar het verskeie dokters dieselfde opinie gehad oor Amelia. Steeds het sy hardnekkig geweier om die waarheid in die gesig te staar

                                         ~~~~~~~~~~~~~

Die hofsaal is volgepak. Amelda gaan voor sit by haar en Amelia se prokureur. Haar dogter glimlag vir haar, waai liggies met haar hand. Amelda kyk om haar heen. In die linkerkantse bank sit die ouers van die meisie. Die een wat tragies gesterf het. Die een wat gesterf het omdat sy wat Amelda is, se dogter, Amelia, nie dink voor sy doen nie. Sy sak haar oë toe die ander moeder na haar kyk. Binne in huil haar hart vir daardie ma, nie net vir haar nie, maar ook vir haar eie dogter en vir haarself.

                                     ~~~~~~~~~~~~~~

Die eerste getuie word geroep. Dit is ‘n maer bleek meisie wat ‘n bril dra. Sy beloof plegtig om die waarheid en net die waarheid te praat. Die prokureur skeur haar uitmekaar met sy vrae. Amelda sien hoe die meisie bang na haar dogter staar. Die kind hou voet by stuk, dit was ‘n ongeluk, Amelia en die ander dogter het mekaar speels uitgetart. Alles was in ‘n grap bedoel. Die ander meisie het self oor die reling by die skool se boonste verdieping geval. Met ‘n skok sien Amelda die grynslag op haar kind se gesig. In haar kind se oë skyn daar ‘n amperse diaboliese lig. Dan besef sy, haar dogter het hierdie kind of afgepers, of gedreig. Hierdie meisie is g’n vriendin van Amelia. Die kind is doodbang vir die meisie in die beskuldigde bank.

                                      ~~~~~~~~~~~~~~~~~

Nog getuies word na vore geroep. Die meeste is aan die ander meisie se kant. Amelda luister hoe daar vertel word dat Amelia met opset die meisie oor die reling gestamp het. Daar was ‘n bakleiery. Nog twee meisies skaar hul aan Amelia se kant, ook hulle beloof plegtig dat dit ‘n blote ongeluk was.

                                   ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Dan is dit haar beurt. Vanuit die getuie bank kyk sy na haar kind Amelia se hele lewe lê nog voor haar. Daar is tog soveel getuies wat bevestig het dat die ongeluk net dit was, bloot ‘n ongeluk. So iets sal nie weer gebeur nie, sal dit? Jy het dit ook gedink van al die vorige dinge, die hond en die baksteen, die boelie van ander kinders. Die blatante minagting van gesag. Tog, dit het, elke keer weer en weer, oor en oor gebeur, het dit nie? Kla die stemmetjie in haar kop haar aan. Dan kyk sy vir die ander vrou, die moeder wat ‘n kind aan die dood moes afstaan en sê;

“Ek is jammer. Nie net vir jou nie, maar ook vir myself en vir my dogter.”

                                  ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

“Edel Agbare, ek sien nie kans vir al die onnodige vrae nie. My dogter is skuldig, en so ook ek! Sien, u edele, my kind is ‘n psigopaat, my kind is gewelddadig, my kind het ‘n misdaad opsetlik gepleeg. Ek wil by u pleit vir versagtende omstandighede vir my dogter. Hierdie is my skuld, ek was die een wat geweier het om te glo dat my dogter is wat sy is. Psigoties. Ek kan u die dokters se verslae wys, edel agbare.”

                                ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Pandemonium breek los in die hofsaal. Amelia het op die een of ander rede tot voor haar ma gekom. Haar hande is in ‘n wurggreep om Amelda se nek. Weer sien Amelda die diaboliese lig in haar kind se oë, en dan weet sy, sy het die regte ding gedoen. Amelia is en was nog altyd ‘n gevaar vir haarself en ander. Haar hart breek in een miljoen stukke toe haar dogter weggelei word. Toe haar kind haar met haat en walging aankyk.

                               ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Die ander ma staan voor haar, daar loop trane oor haar wange toe sy Amelda omhels.

“Baie dankie, dit moes die moeilikste ding wees wat jy nog ooit gedoen het. Sy sal oukei wees, ons almal sal oukei wees.”

Dan draai sy om en Amelda kyk toe hoe haar suster wegstap.

                                ~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~~

Drie maande later. Amelda en haar suster besoek vir Amelia in die psigiatriese hospitaal. Gelukkig heers daar nou vrede tussen almal van hulle. Amelia omhels haar tannie, kyk dan reguit in haar ma se oë. Amelda is geskok toe sy die grynslag op haar dogter se gesig sien. Daardie diaboliese lig is ook terug in haar kind se oë. Amper te laat sien sy die skerp voorwerp in Amelia se hand. Haar suster struikel, sy sien die bloed wat die wit bloes vlek, vinnig beweeg sy vorentoe, sy gryp die voorwerp uit haar dogter se hand, dan kap sy met mening na haar suster. Daarna gryp sy na haar dogter, met presiese hale kerf sy die hoof slagaar oop. Dan, net voor sy die klokkie lui, kerf sy ook lang snye op haar eie lyf. Selfverdediging. Toe sy later die middag daar uitstap, na die ondervraging, skyn dieselfde lig uit haar oë as uit die van haar dogter.

Santi Kruger

This image has an empty alt attribute; its file name is image.png

Ek is Santi en ek is versot op stories maak en dig.

Ek skryf (probeer skryf) in alle genres – ek skryf vir kinders, ek dig en skryf kortverhale. My voorkeur is egter spanningsverhale en rillers. Ek het egter ook my hand gewaag aan ‘n paar humoristiese en romantiese verhale wat ek hoop om in die toekoms met lesers te deel. Ek hoop dat lesers my vertellings sal geniet.

Ek was ook in 2019 betrokke by ‘n liefdadigheidsprojek deur Alta van Zyl van Hope Anointed Ministries. ’n Bundel Spore van Genade was die resultaat daarvan. 40 digters en skrywers se werke is hierin saamgevat en van my gedigte (oor swaarkry, mishandeling, dwelmmisbruik) asook kortverhale kan hierin gelees word. Die opbrengs uit die bundel gaan vir liefdadigheid. Dit is ook by boekwinkels landwyd beskikbaar en ook op Amazon:

Santi 1
Santi 2