san022: Vrees

‘Monsters en spoke is ‘n werklikheid. Hulle leef binne in ons.’

                                  – Stephen King.

Mara druk die kussing stywer teen haar gesig vas. Sy probeer so om die angswekkende, bloedstollende gille uit te doof. Sy huil.

Dit was met sterre in haar oë, drome vir die toekoms en hoop in haar hart, wat sy daardie dag ingestem het om met Dan te trou. Sy was smoorverlief op die aantreklike blondekop man. Met sy blou oë en kuiltjies in sy wange, het hy haar betower. Haar voete was onder haar uitgeslaan. Sy kon dit nie glo dat hy met haar wou trou nie. Hy wat enige meisie kon kry, het haar gekies!

Sy hoor hoe die deur oopgaan. Vrees wurg in haar keel. Hoe baie het sy nie al gewonder nie; Wanneer is dit dalk haar beurt? Sy hoor hoe hy in die kombuis doenig is, water wat loop. Sy weet dat hy nou besig is om sy instrumente skoon te was. Sy weet ook dat hy netnou maar hier by die kamer sal instap. Sy maak dus asof sy vas aan die slaap is. Asseblief sy sien nie kans nie, nie vanaand nie. Die deur gaan skielik oop. Sy kan ruik hoe die taai rooi vog aan hom kleef. Hy stap verby haar, sê nie ‘n woord nie, sy hoor hoe die stort se water loop. Dankie tog! dink sy, sy is vanaand vrygespreek van die gruwelike taak. Hy kom uit die stort gestap, hy ruik skoon, tog die reuk bly altyd aan hom kleef.

“Mara! Staan op jou sleg teef!” Mara word aan haar hare orent gepluk. “Ek sê staan op! Uit is jy, gaan sorg dat my werksplek skoon en uitgeskrop is!”

“Dan! Asseblief, ek smeek jou … ek kan nie …!” pleit sy by hom.

“Wat! Jy kan nie wat nie, Mara?” sy plathand tref haar vol in die gesig, sy steier en val. Hy skop haar en dan kry hy haar weer aan die hare beet. Mara word gesleep tot by die agterste deur, Dan smyt haar uit; “ek het gesê loop skrop die bliksemse plek, hoor jy my! Toe, loop, verdien jou brood en botter, jou slegte ding!”

“Goed! Goed! Ek is jammer, Dan. Ek gaan maak dadelik skoon!” “En jy slaap sommer daar vannag!” snou hy en klap die deur toe.

Mara stoot die deur van die “werkswinkel” oop, ‘n skielike naarheid oorval haar. Sy storm na buite, braak. Sy bewe soos ‘n riet. Sy kan nie, sy kan hierdie nie meer doen nie. Wegkom kan sy ook nie, alles is agter slot en grendel, elektriese heinings omsoom die perseel. Daar is oral kameras en alarms. Sy snik as sy besef dat sy hierdie net eenvoudig sal móét doen. Sy weet wat die uiteinde sal wees as sy weier om skoon te maak. Sy het al een maal tevore. Dan het haar vir dae lank opgesluit, sonder kos of water en elke dag is sy gemartel deur hom. Sy skraap moed bymekaar, stoot die deur weer oop. Staar in afgryse na Dan se kunswerk, die kunswerk wat hy nie vannag verwyder het nie.

Sy kry die pyp wat aan die kraan gekoppel is, daarmee spuit sy eers die meeste van die taai rooi vog weg, kyk toe hoe dit uitvloei na buite. Sy besef dat sy die kunswerk sal moet verwyder, dit moet in suur opgelos word in die groot bad wat eenkant staan. Sy ril onwillekeurig, laat dan die meisie se liggaam afsak tot in die groot bad vol suur. Snikke ruk deur haar lyf. As sy net kon wegkom hier! Sy kyk nie toe hoe die suur die liggaam wegvreet nie, sy kan nie, die reuk is oorweldigend. Sy kry die seep en bleik middels waarmee sy die vlekke van die vloer en mure moet verwyder, emmers vol water en borsels. Verwoed begin sy skrop en skrop. Dit is asof sy die vlek van haarself probeer afskrop.

Sy onthou haar eerste en ook enigste keer wat hy haar laat deel het aan sy kunswerk. Sy was so geskok, sy kon nie glo wat sy sien en hoor nie. Hy het toe ‘n mes in haar hand geprop. Sy was versteend, hoe kon hy dit van haar verwag. Dit was nie haar man voor haar nie, nee dit was ‘n monster.  ‘n Grynslaggende monster! Hy het haar hand vasgegryp, sy wou vlug, sy kon nie.

“Sny die teef, Mara!” hoor sy hom weer gil. Sy bewe en huil.

“Nee! Dan, asseblief, ek … kan … nie … wil nie!” dit is toe dat hy haar hand met die mes lig, hy het die liggaam voor hulle haal vir haal oopgekloof. Die meisie het gegil, bloedstollend gegil. Mara onthou hoe die meisie se binnegoed uit haar lyf begin peul het, sy onthou hoe naar sy was, sy het losgeruk, gevlug na buite en gebraak, aanhoudend. Hy het haar kom soek, haar vertel hoe nikswerd sy is. Hy het haar beveel om die werksplek skoon en netjies te kry. Sy het geweier om haar voete weer daar te sit. Dit was toe dat hy haar die eerste keer geskop en slaan het, hy het haar gedwing om toe te kyk hoe hy van die liggaam ontslae raak, daarna is sy opgesluit, gemartel en sy het geleer om te doen wat vir haar gesê word. Sy moes onderdanig wees aan haar man.

Vir die volgende week gaan dit goed. Dan het haar kom vertel hoe jammer hy is, hoe lief hy haar het. Sy is baie bederf met duur geskenke, parfuum, juwele, blomme. Hierdie kort tydperke was vir Mara wonderlik, dan het sy weer die man waarmee sy getrou het terug gehad. Dan is eintlik ‘n wonderlike persoon, hy is sag en liefdevol, dit is net hierdie monster van sy verlede wat hy nie kan afskud nie. Hy het haar vertel hoe moeilik sy kinder –  jare was met ‘n ma soos syne. Sy ma was ‘n prostituut, ook aan dwelms verslaaf, en Dan moes toekyk hoe sy haarself verkoop vir die volgende fix. Hy was ook uitgelewer aan ander se genade, ander wat met hom gemaak het nes hul goed gedink het. Sy verskoning was ook dat hy die wêreld red van sulke vroue, dat hy wou keer dat nog so ‘n vrou kinders in die wêreld bring. Die deur klap toe en hy stap na waar sy sit en lees het.

“Ek gaan uit, moenie opwag nie, dit gaan ‘n laat aand wees.” laat hy dan hoor, raap sy sleutels op van die tafel. Sy kyk nie op nie, voel net hoe vrees haar weer in sy beklemming het. Die monster is weer terug. Haar Dan is weg. Hy sê niks verder nie, stap net verby haar. Sy slaan die boek toe. Sy vrees die nag wat voorlê.

Dit is al na middernag toe sy die ligte by die oprit sien indraai. Sy sug, sy kan net nie meer nie, vannag sal sy seker weer die grusame gemors moet gaan skoonmaak. Sy is bang, vol vrees. Sy het egter besluit, tot hier toe en nie verder nie. Sy moet net sorg dat haar plan slaag, anders gaan daar ‘n grusame einde vir haar voorlê, daarvan is sy heeltemal seker. Sy staan op, gaan sluit die deur oop en stap hom tegemoet. Dit is nou of nooit, sy moet eenvoudig net deurdruk. Vannag nog kom sy hier uit en weg! Sy sien dat die meisie by hom reeds vasgebind is, sy glimlag soet.

“Dan! Liefling, jy is terug!” groet sy opgewonde.

“Wat wil jy hê, Mara? Ek is besig!” snou hy.

“Ek het net gewonder … mag ek vanaand deel in die pret?”

“Werklik?” hy kyk haar wantrouend met ‘n geligde wenkbrou aan, “jy moet seker dink ek is mal. Gee pad, vroumens, ek het werk om te doen!”

“Asseblief, Dan, ek wil graag hierdie saam met jou doen, ek weet nou dat ek sal kan. Die ander aand, toe ek skoonmaak, ek het besef, ek wil dit saam met jou doen. Daar was hierdie drang binne in my …. jou ma moet gestraf word, Dan, ek wil my liefde so aan jou bewys. Ek het besef, toe die liggaam in die suur weg kook, hierdie is my roeping, ek moet jou red, verlos van haar.”

“Nou maar goed,” stem hy in, “as hierdie een van jou truuks is, jy weet jy sal dit berou. Jy sal jouself moet bewys vanaand!”

“Natuurlik! Dankie, dankie, ek sal jou nie teleurstel nie, sê net wat ek moet doen.” innerlik slaak sy ‘n sug van verligting.

“Bring haar in! Ek en jy gaan baie pret hê met haar!” beveel hy.   Mara gehoorsaam dadelik, alhoewel syself fyn gebou is, sukkel sy voort om die spartelende jong meisie na binne te bring. Dan wys haar hoe om die meisie te haak en op te hys. Hy stap oor na die tafel waar sy gereedskap lê. Hy vou ‘n groot sak voor Mara oop. Ontbloot vlymskerp messe, skalpels en tange, toue en ander martelaars instrumente. Sy glimlag innemend vir hom. Hy moet net aanhou glo dat sy dit wil doen, haar aanhou vertrou. Hy beveel haar om die kleefband om die meisie se mond af te trek.

“Wat is jou naam, meisie?” vra Mara, die meisie spoeg in haar rigting. Mara gryp na ‘n groot leer plak, sy slaan die meisie daarmee deur haar gesig, gryp haar dan aan haar hare.

“Ek het gevra wat is jou naam, teef!” spoeg sy die woorde in die meisie se gesig uit, “spoeg my weer, en ek sny jou tong uit!”

“M – m misty, my naam is Misty!” antwoord die meisie.

“Wonderlik! Sien, ons maak vordering. Is jy gereed vir ‘n bietjie pret, Misty?” koggel Mara die snikkende meisie.

“Bravo!” Dan klap hande vanaf die deur, “wys haar wie is baas, skattebol! Ek wil hê dat jy haar stukkie vir stukkie oopkerf. Ek het besluit, vanaand assisteer ek net. So, wat sal dit wees? ‘n Skalpel is altyd ‘n goeie keuse vir beginners, engel … “

“Bring dit vir my!” Dan oorhandig die skalpel en hy lag lelik.

“Ek het altyd geweet jy het dit in jou, skat. Laat die bloed vloei! Ek kry solank die bad gereed, vat asseblief jou tyd, dit is altyd lekkerder om eers so bietje te speel. Ek het jou so lief, Mara.”

Mara begin deur die meisie se klere met die skalpel af te pluk. Sy lees die ongenaakbare vrees in die meisie se oë. Sy ken daardie vrees, sy leef immers dag vir dag daarmee saam. Alhoewel sy die meisie jammer kry, weet sy, sy sal moet deurdruk. Dan gaan nou enige oomblik daarop aandring om bloed te sien vloei. Dus kerf sy ‘n lang haal in die meisie se rug, sy staan effe terug, amper asof sy die syferende rooi vog bewonder. Sy kan sien dat Dan baie opgewonde raak. Die skalpel gly oor die meisie se borskas, die boed syfer deur haar ligte vel, sy gil, bloedstollende gille.

Dan kan sy oë nie glo nie. Tog, hy het nog altyd geweet, Mara, sy Mara is dieselfde as hy, hy moes haar net eers inbreek. Hy lag weer genotvol, aanskou die skouspel voor hom. Die bloed wat uit die jong liggaam vloei, maak iets in hom wakker. Hy geniet dit, hy sien nie hoedat Mara met die meisie praat nie, sy wink hom nader. Hou nog ‘n skalpel uit na hom, uitnodigend. Sy glimlag. Hy stap nader, sy Mara het nog nooit so mooi gelyk soos nou nie, bloedbevlek, haar oë glinster van genot. Hy het lankal geweet. Hy staan voor haar, sy omhels hom, hy proe die bloed op haar lippe, hy is in ekstase, sy hande tas na hare agter sy rug. Sy sien die skielike verwarring in sy oë toe hy die klik van die boeie hoor

“Mara! Mara, wat maak jy, maak my los, onmiddelik!”

“Sjuut!” haar vinger is op sy mond, “ek wil net ‘n bietjie pret hê, hierdie is so opwindend my skat!” sy pluk sy hemp oop, soen hom weer, Dan sien te laat die haak vanuit die dak. Hy gil toe hy opgeheis word. Die besef dat Mara hom verraai het dring tot hom deur. Hy gil op haar, vloek, skel en dreig haar. Sy lag hom uit. Misty word vinnig losgebind, daar is nie tyd om wonde te verbind nie, hulle sal moet gou speel, niemand ken hierdie opset beter as Dan nie, netnou kry hy homself los, dan is daar groot moeilikheid, hy sal haar vir seker nie die keer spaar nie.

“Mara! Maak my los, jou teef! Jy sal dit berou, glo my!”

Sy kyk na hom, dan na die skerp lang pen wat op die grond lê.

“Jy was reg, Dan, ek het dit nog altyd in my gehad. Dit het ‘n monster soos jy gekos om my dit te laat besef …” sy lees die vrees in sy oë, die algehele verbasing en oorbluftheid. Met al haar krag dryf sy die skerp punt van die pen deur sy swaaiende lyf. Uiteindelik is sy vry, vry van die monster, vry van die vrees.

“Vaarwel, Dan.” prewel sy, hy leef nog, sy draai om en stap weg.

Sy verbind Misty se wonde, die tasse en haar persoonlike besittings word vinnig op die bakkie gelaai. Vir oulaas kyk sy na die huis waar sy so lank deur vrees vasgeketting  was. Sy steek die vuurhoutjie aan die brand, gooi dit na binne. Amper dadelik is die huis in ligte laaie. Sy stap oor na die werkswinkel, ook daar gooi sy ‘n brandende vuurhoutjie in. Sy steur haar nie aan die bloedstollende gille van haar man nie. Kyk hoe die vlamme lek.

Die afstandbeheerder sluit die hekke oop. Mara en Misty ry die donker nag binne. Mara ry haar pad oop na ‘n vreeslose toekoms.

© Santi Kruger 10/12/2018.

Santi Kruger

This image has an empty alt attribute; its file name is image.png

Ek is Santi en ek is versot op stories maak en dig.

Ek skryf (probeer skryf) in alle genres – ek skryf vir kinders, ek dig en skryf kortverhale. My voorkeur is egter spanningsverhale en rillers. Ek het egter ook my hand gewaag aan ‘n paar humoristiese en romantiese verhale wat ek hoop om in die toekoms met lesers te deel. Ek hoop dat lesers my vertellings sal geniet.

Ek was ook in 2019 betrokke by ‘n liefdadigheidsprojek deur Alta van Zyl van Hope Anointed Ministries. ’n Bundel Spore van Genade was die resultaat daarvan. 40 digters en skrywers se werke is hierin saamgevat en van my gedigte (oor swaarkry, mishandeling, dwelmmisbruik) asook kortverhale kan hierin gelees word. Die opbrengs uit die bundel gaan vir liefdadigheid. Dit is ook by boekwinkels landwyd beskikbaar en ook op Amazon:

Santi 1
Santi 2