san024: Verbode Vrugte

“Waarmee is jy besig? Kom jy dan nie saam ons eet nie?”

Hy skrik effens & klap die skootrekenaar toe. Hy is sommer vies.

“Genugtig, Carol, vir wat bekruip jy ‘n mens so! Ek is besig met werk, ek het ‘n voorlegging wat moet klaar kom.”

“Jy kan ten minste jou werk wegbêre vir ete, dan nie.” laat sy verwytend hoor. Henk vervies hom van voor af;

“Ja, Carol, kom ek bêre my werk. Ons sal sien wie betaal dan vir hierdie weelde waarin jy lewe, magtag, vroumens, dis net werk.”

Die seergemaakte uitdrukking in haar oë laat hom soos ‘n wurm voel en hy is sommer weer kwaad, meer vir homself as vir haar.

“Ek kom. Ek sit net gou hier af.” Sy staan nog steeds in die deur.

“Wat nou, Carol? Wil jy kom seker maak dat ek nie lieg nie?” hy gryp die skootrekenaar en hou dit uit na haar toe, “toe, kyk!”

Carol draai egter om en stap in die rigting van die eetkamer. Henk slaak ‘n sug van verligting, hy weet nie wat hy sou doen as Carol werklik vanaand daardie rekenaar by hom sou vat nie. Hy vee alle bewyse uit van waarmee hy werklik besig was. Hy voel eintlik skuldig, Carol verdien nie wat hy aan haar doen nie.

Aan die etenstafel heers ‘n ongemaklike stilte. Dit maak nie saak hoe hy probeer nie, geen gesprek wil vlot nie. Hy kyk dus maar na die mense rondom hom, Carol, sy pragtige vrou, Cherise, sy onskuldige vyfjarige dogter, en Tommie, sy seun, sy oudste.

Ná ete gaan sit elkeen in hul eie hoekie in die ruskamer. Die kinders speel speletjies op hul tablette, Carol blaai lusteloos deur ‘n tydskrif, Henk werk nie op sy skootrekenaar nie. Later is dit bedtyd vir die kinders, nádat Carol hul gaan versorg het, kom sy weer in die ruskamer sit. Henk is besig om ‘n sigaar te rook.

“Het jy dan nie werk om af te handel nie, Henk?”

“Ek wou eers met jou praat, Carol. Ek is jammer dat ek so na jou gehap het, vroeër. Dis net, ek sukkel met hierdie voorlegging.”

“Dit is oukei, skat, ek verstaan dat jy onder druk is.”

“Dit is geen verskoning nie, Carol. Ek is regtig jammer, ek belowe dat as hierdie projek klaar is, ek sal opmaak, hoe klink ‘n lekker wegbreek vir jou? Net ek, jy, en die kinders. Iewers eksoties.”

“Dit klink hemels, Henk! Wag, ek gaan ‘n heerlike bad tap en jou los dat jy met jou voorlegging kan klaarmaak. Die vakansie gaan nie vir homself betaal nie.” sy vryf sy hare deurmekaar en hy gryp haar nader, plant ‘n kus op haar lippe, dan laat hy haar gaan, hy lag as hy haar agterna kyk en sê;

“Ek belowe om nie te laat op te bly nie, sien jou binnekort.”

Uiteindelik is hy alleen. Net hy, sy skootrekenaar, en die verbode vrugte. Hy staar na die skerm, dit gaan so maklik wees. Hy kan nie glo dat hy nog al hierdie jare hiermee wegkom nie. As Carol kon uitvind wie hy werklik is, sy sal dit nie kan hanteer nie. Hy blaai terug na van sy vorige kunswerke. Die klank van die rekenaar is gelukkig af. Hy bewonder sy handewerk. Al moet hy dan nou self so sê, hy verdien ‘n klop op die skouer. Buitendien, as dit nie was vir hierdie ekstra inkomste van hom nie, sy gesin sou nooit in hierdie weelde kon leef nie. Hulle moet dankbaar wees vir hoe hy vir hul voorsien. Ja, net dankbaar wees, dis al.

‘n Koevertjie flits oor die skerm. Henk vryf sy hande teen mekaar Wonderlik! Die meisietjie het uiteindelik gebyt.

“Ek sal jou graag wou ontmoet” lees die boodskap.

“Wonderlik, ek kan nie wag nie!” tik hy vinnig terug, dan gee hy vir haar besonderhede van ‘n tyd en plek. Hul kuberklets nog ‘n rukkie en dan sluit hy die gesprek af. Hy is super opgewonde. Hy kan nie wag vir hierdie ontmoeting nie, hy kan nie wag dat sy volgende kunswerk die lig sien nie. Hy vee weer die gesprek uit, verwyder alle verdoemende bewysstukke. Dan verkas hy kamer toe, hy is nogal teleurgesteld dat Carol reeds aan die slaap is. Sy slaap egter nie, sy het gehoor dat hy op pad was, dus het sy gou – gou haar rekenaar onder die bed ingeskuif en gemaak asof sy vas aan die slaap is. Henk gaan stort en kom kruip dan in.

“Kon jy enige iets wys raak, Carol?” Carol geniet ontbyt saam met haar beste vriendin, Lisa, sy het egter nie juis ‘n aptyt nie.

“Ek vermoed dat hy my verneuk, Lisa, met meisies veel jonger as ek,” sy krap haar kos deurmekaar, “daar is ‘n ontmoeting later vanaand, ek kan nie wag om sy gesig te sien as ek opdaag nie.”

“Goeiste, Carol, ai, ek is so jammer, vriendin. Jy moet uiters en ek bedoel, uiters versigting wees. Jy weet nooit waartoe Henk in staat is as hy sou uitvind dat jy hom om die bos gelei het nie.”

“Nee, Lisa, dit is hy wat moet wees, die lae luis. Verbeel jou, hy is kastig besig met werk, want hoe anders gaan hy vir ons luukse lewe betaal, nogal! En al die tyd knyp hy die kat in die donker.” laat Carol wrang hoor. Sy sit haar vurk neer en drink haar tee.

“Ek gaan saam met jou. Morele ondersteuning en so aan, jy weet, jy kan nie die vark alleen gaan aanvat in jou toestand nie.”

“Dankie Lisa, maar, ek dink die is iets wat ek alleen moet doen.”

“Jy gaan nie alleen nie, en klaar, ek sal in die agtergrond wees. Toe, kom eet nou bietjie iets, jy moet jou kragte opbou.”

Henk sit in sy kantoor en lees weer deur die e-pos wat hy getik het, hy kan nie meer wag tot vanaand toe nie, hy weet sommer, die volgende bloeddorstige video gaan ‘n groot sukses wees. En dan, natuurlik, daar is groot geld ter sprake. As die dag net wil ophou voete sleep. Vannag voltooi hy sy volgende kunswerk.

Ná ontbyt het Carol besluit dat sy haar goeie vriend Charl gaan vra om so bietjie op Henk se skootrekenaar rond te snuffel, dit is haar geluk dat hy dit nooit saamneem werk toe nie. Charl het ‘n vreeslike klomp kodes en goed op die rekenaar ingetik, en die eindresultaat is Carol wat met saamgeklemde hande na die beelde voor haar op die rekenaar staar. Sy kan haar oë nie glo nie. Wie doen so iets! Dan tref dit haar soos ‘n vuishou in die maag, hierdie is alles Henk se handewerk, haar man, liewe Henk. Skielik oorval ‘n naarheid haar en sy hardloop na die badkamer.  Nádat sy haarself reggeruk en verfris het, stap sy na waar haar foon lê, sy weet dat sy die regte besluit geneem het. Sy besef skielik dat hierdie die lot van die “arme meisie” sou wees wat Henk vanaand sou ontmoet het. Op hierdie oomblik wens sy ook dat hy haar wat Carol is, eerder verneuk het, dit sou baie beter gewees het as hierdie grusame ontdekking wat sy sopas gemaak het. Die wete dat die man wie sy liefhet, die pa van haar kinders so ‘n siek monster is, jaag haar nogmaals na die badkamer.

Die speurder verwittig haar dat hulle nou al ‘n geruime tyd op die spoor van hierdie siek sindikaat sit. Sy kan nie glo dat daar werklik mense in die wêreld is wat sal betaal om te kyk hoe ‘n ander persoon gemartel en vermoor word nie. Ongelukkig is dit ‘n wrede werklikheid, en, Henk is een van hierdie siek mense wat genot daaruit put om nie net te martel en moor nie, maar dit nog te verfilm ook. Die rekenaars word gekonfiskeer, bewysstukke. Sy en die speurder beplan die ontmoeting vir vanaand, die ontmoeting met Henk. Sy skakel vinnig vir Lisa, die kinders moet vandag by haar oorbly, Lisa wou nog teë stribbel, maar Carol laat haar nie van stryk bring nie. Henk het geskakel, sy hoef nie vir hom op te wag nie, hy gaan kamma kliënte onthaal.

“Wat de …?! Carol, wat soek jy hier? ” Henk kan sy oë nie glo nie.

“Ek is die meisie vir wie jy sou ontmoet vanaand, Henk” op haar beurt kan Carol ook nie haar oë glo nie, “wat is hierdie, Henk?” sy wys na die groot swart sak op die tafel, sy loop soontoe en gooi dit oop. Sy snak na haar asem as dit allerhande messe en skerp voorwerpe ontbloot; “wat is hier aan die gang, Henk!”

“Bly tog net stil, Carol. Maak dat jy weg kom, jy het alles gaan staan en rüineer, jy kan maar daai vakansie in Zanzibar tot – seuns soen. Voetsek! Jy kom mors net alles op. Toe, loop, sê ek!”

“Nee, Henk, ek loop nêrens, jy skuld my ‘n verduideliking. Ek weet alles, ek het die video’s gesien, hoe kon jy! Hoe kon jy dit aan my doen, aan ons kinders? Watse tipe mens is jy!”

“Spaar my die melodrama, Carol, jy het mos met jou gat in die botter geval, het jy nie? Wie dink jy betaal vir jou lekker lewetjie, die besigheid? Die besigheid is net ‘n front, Carol, die, hierdie,” hy swaai sy arm deur die vertrek, “is wat betaal vir jou en jou brats se lekker lewe. Ek het alles vir julle gedoen. Buitendien, die klomp goed wat vermoor word, hulle is tog net skuim van die aarde …”  Haar plathand tref hom hard teen sy wang;

“Hulle is, was, mense, Henk! Hulle was iemand se dogters, jy is ‘n monster, ek haat jou, ek haat jou! ” hy gryp haar hande vas en stap haar eenkant toe.

“Jy haat my? Dit is my geld, my inisiatief, wat vir jou sorg. Wat jou fancy, cosy huis kon bekostig, jy is ondankbaar. Jy weet, ek het nou net ‘n wonderlike idee gehad, ek is inelkgeval moeg vir jou geteem, Henk, dit is fout, Henk dat is fout… aangesien jy nou hier is, daar moet ‘n film geskiet word vanaand. ” Hy pluk haar hardhandig orent, sy glo nie wat sy hoor nie, Henk gaan haar vermoor …

Die deure bars oop en skielik is daar chaos, Henk word in hegtenis geneem vir moorde en ‘n lange lys ander goed, sy het nie eens verder geluister nie, al waaraan sy kon dink was dat Henk haar vanaand sou vermoor het …

Lisa bring vir haar ‘n Martini.

“Wie sou dit nou ooit kon raai? Stil, lieftallige Henk, ‘n moordenaar en baasbrein van daai siek spul? “

“Ja, Lisa, was sy verbode vrug maar eerder wat ek aanvanklik gedink het. Dankie dat jy hier is, Zanzibar is pragtig, nie waar nie? Ek en die kinders kan maklik ‘n nuwe lewe hier bou.”  Sy lig haar glas en glimlag breed.

Santi Kruger

This image has an empty alt attribute; its file name is image.png

Ek is Santi en ek is versot op stories maak en dig.

Ek skryf (probeer skryf) in alle genres – ek skryf vir kinders, ek dig en skryf kortverhale. My voorkeur is egter spanningsverhale en rillers. Ek het egter ook my hand gewaag aan ‘n paar humoristiese en romantiese verhale wat ek hoop om in die toekoms met lesers te deel. Ek hoop dat lesers my vertellings sal geniet.

Ek was ook in 2019 betrokke by ‘n liefdadigheidsprojek deur Alta van Zyl van Hope Anointed Ministries. ’n Bundel Spore van Genade was die resultaat daarvan. 40 digters en skrywers se werke is hierin saamgevat en van my gedigte (oor swaarkry, mishandeling, dwelmmisbruik) asook kortverhale kan hierin gelees word. Die opbrengs uit die bundel gaan vir liefdadigheid. Dit is ook by boekwinkels landwyd beskikbaar en ook op Amazon:

Santi 1
Santi 2