Pieter Honiball
Hulle het gesê dit sal nie aard hier nie.
Snaaks, dis presies wat hulle oor my gesê het. En hier is ek nog steeds.
Tog vreemd hoe mense se koppe kan werk. Die Vrystaat se wapen het dan ‘n lemoenboom op, maar moenie hulle probeer oortuig dat lemoene hier sal aard nie.
Ek het maar gesukkel hier. Baie moeite om aan te pas. Maar hier is ek nog steeds.
Mense het gedink ek’s snaaks, eksentriek het hulle gesê. Ek wou net bome plant, miskien iets skryf. Vir hulle wou ek skryf, vir hulle wou ek die lemoene plant, as hulle net wou glo. Glo in my en my lemoene. Oor my woorde kan ek hulle nog vergewe, maar lemoene, soet lemoene, wie kan nie daarin glo nie.
Ek sien nou nog die vlakte, die leë, blou lug en die wakende koppies al om die horison. So leeg. Leeg soos net hulle siele kon wees.
Een boom, het ek altyd gesê, een boom, kon ‘n hele vlakte met die geur van soet lemoenbloeisels vul.
Nou lê ek hier begrawe onder die lemoenboom.
Heerlike soet lemoene, en niemand wat daarvan eet nie.
Tog jammer dat dit so moet mors, die soet lemoene.
Pieter Honiball

Ek is Pieter Honiball, ook bekend as Ponsappel, en het studies in Filosofie tot honneursvlak onderneem. Ek het vir ‘n aantal jare skool gehou, onder andere in Queenstown en Greyton in die Wes-Kaap. Ek het voorheen gehelp met druiwe oes op wynplase en het op ‘n stadium my eie besigheid in Stellenbosch gehad. Ek woon tans in Bloemfontein waar ek as tolk by die Provinsiale Wetgewer werk. Ek het ‘n loopbaan in die akademie oorweeg, maar het besluit om eerder op my skryfwerk te fokus.