mathar: 6.

Sy ruk haar op. “Goed Kaptein, ek hoor jou hard en duidelik.” Sy is nie nou lus vir sy gekarring nie, sy is moeg. Kapot. Sy rits haar sak oop en laat amper die bottel water val toe sy in Anton se intense blik vaskyk. Hy staan rustig oorkant haar teen die muur aangeleun en flits `n spierwit glimlag na haar. Haar hart plons in haar tekkies. Hy is gemeen. Hy is natuurlik bewus dat sy geen verweer teen sy verwoestende aanslag op haar emosies het nie en buit dit uit. Hy is mos daarop uit om vroue een vir een om te klits. Vandaar die vyf kinders, werk sy haar doelbewus op. Sy moet hom wen en sy sal!

Toe sy regop kom verbeel sy haar sy kan die spanning in die vertrek voel vibreer. Die optrek van asems, opgewonde gefluister. “Sterkte, Sonnika! Nog 2 potte om te gaan!” skree iemand om haar aan te spoor deur te insinieer dat sy hierdie pot gaan wen. Dit moedig haar aan om harder te konsentreer. Sy moet fokus.

Ander moedig Anton aan. “Ou grote, wys haar wat in jou steek.”

Dis nou of nooit, dink Sonnika. Sy en Anton ken elke triek in mekaar se boek. Hulle jaag mekaar rond. Elke punt draai uit op `n taai stryd. Die spanning bou op. Hulle spanmaats klap hande en moedig hulle aan. “Komaan Witkop, wys hom wie`s baas!” hoor sy Wouter skree.

Sy besluit om haar taktiek te verander, sy moet hom verras met harde dryfhoue om sy ritme te breek. Hy lees haar sagte lughoue te goed. Sy weet net wanneer hy sy harde voorarm dryfhou gaan slaan en gebruik sy krag saam met haar eie en verras hom met `n harde dwarsbaan dryfhou wat doodval in die agterste hoekie. Sy wen die volgende pot en maak dit gelyk 2 elk. Wouter en sy span raak histeries.

“Ek het jou onderskat, jy speel meesterlik,” prys Anton en wag vir haar om voor te loop.

Binne in haar gloei `n vonkie. “Dankie. Jy is self `n gedugte opponent.”

Sy warm blik hou hare gevange. “Ek hou van `n uitdaging, veral as daar so baie vir my op die spel is,” fluister hy intiem, knipoog en staan beleef weg toe haar spanmaats haar aandag opeis.        “Meisiekind, wys hom wat in jou steek,” moedig Wouter haar aan.

Moenie so gou opgewonde raak nie dink sy. Die mansmens gaan die vloer met my vee. Hy is uitgeslape en doelbewus daarop uit om haar bloeddruk op te jaag. Hy wil haar ontsenu sodat sy foute maak, vervies sy haar. Sy moet onthou hy is `n pa met vyf kinders en hy is definitief nie ouer as dertig nie. `n Kind elke jaar wil gedoen wees, werk sy haar opsetlik op. Die ma van sy kinders is dood of sy het die pad gevat. Sy hardloop seker nou nog, die arme ding.

Met haar verdedigings meganismes vol aangeskakel loop sy na die baan. Gereed vir die stryd. Die laaste bepalende pot volg. Die een oomblik is sy voor, dan is Anton voor. Hulle eindig 14 elk. Nie een van die twee kan twee punte voor kom nie. Dis later al 21-20 en Anton slaan af. Dis wedstrydpunt vir hom. Die bal tref die groef en skiet onspeelbaar grondlangs uit. Anton wen.

Sonnika se asem jaag. Haar hart gee `n paar flou skoppies en gaan lê. Stilte hang soos digte mis om haar. Toe versplinter die spanning soos glas wat breek en almal begin tegelyk praat. Die klank van stemme weergalm in haar kop.

“Dis net `n gelukskoot,” brom Wouter en gryp sy kop vas. Sonnika ignoreer hom. Haar hart tel weer spoed op toe sy na Anton loop en hom `n handdruk gee. “Baie geluk,” glimlag sy en kyk op in sy glinsterende blou oë. Toe sy hand hare stewig vasvat duisel haar sinne. Dis die gebruik om vir die besoek span `n drankie te koop en kos te gee na die tyd. Sy kan nie anders as Anton nooi nie. “Kan ek vir jou `n koue bier koop as ons klaar gestort het? En as jy lus is, bly en eet saam met ons?”

Voor hy kan antwoord, staan Wouter langs haar. “Sonnika, ek glo nie die besering storie nie. Hy is net te toevallig hier en was gerieflik beskikbaar. Dit is `n gekonkel om Daan te vervang,” verbreek Wouter die oomblik van gedeelde opwinding tussen haar en Anton.

Sy sien hoe Wouter na hul hande kyk en trek haar hand onwillig uit Anton sin. Sy ignoreer hom en draai na Anton. “Dankie, dit was opwindend om saam met jou kragte te meet. Ek het dit geniet,” sit sy Wouter soos `n stout kind op sy plek. Sy vang Anton se geamuseerde blik op haar en Wouter en loop vinnig weg om te gaan stort. Sy sou graag terwille van haar span wou wen, maar dit was `n uitdaging om vir die eerste keer teen `n man met soveel woema te speel. Sy voel die hitte van die harde spel nog uit haar straal. Dis die taaiste wedstryd wat sy nog ooit gespeel het. Sy voel uitgeput maar oorheerend is daardie tipiese vrede. Die vrede met die wêreld gevoel wat net die nadraai van `n oordose adrenalien na `n tawwe stryd op die muurbalbaan jou kan gee. Dit herrinner haar weereens hoekom sy so lief vir hierdie spel is. Mans liga maak dit nog meer hard en lekker en vannaand was eintlik vrek lekker dink sy.

Die res van die aand ignoreer sy Wouter en kuier lekker saam met die besoekspan. Gelukkig het sy besluit om nie weer vanaand saam met Wouter te ry nie. Toe sy later groet, maak Anton verskoning, tel sy sak op en loop saam met haar uit. “Ek kan net sowel agter jou terugry, ons is mos amper bure.” By die woonwapark, druk hy liggies op sy toeter en draai agter haar by sy staanplek in.

`n Rukkie later sit sy rustig in die tent, besig om introspeksie te doen oor die aand. Sy voel nog die nadraai van die spel in haar hele lyf. Dis `n lekker moeg gevoel. By die woonwa langs haar is twee mans besig om vis te braai. Sy hoor hulle lag en gesels en die volgende oomblik staan Anton by haar in die tent. “Mag ek?” vra hy met sy hand op die stoelleuning langs haar.

“Ja, sit gerus. Die ouens langsaan is vroeg oggend hier weg met visstokke en nou vier hulle fees. Dis wat vir my so lekker is van die plek, almal is in `n vrolike vakansiestemming.”  Sy bloos. Ai tog, sy babbel altyd as sy senuweeagtig is. Sy sal liewer  nie waag om vir hom koffie te maak nie, sy sal alles uitstort.

“Jy sal die stilte op Nuutbegin geniet. Jy moet eendag saam met my plaas toe gaan.”

A…hier kom dit wat Wouter voorspel het.  In jou drome ou, ek is nie jou kinderoppasser nie. “Nuutbegin?” wonder sy hardop. “Ek is seker daar`s `n storie agter die naam.”

“Jy`s reg. Die plaas was baie verwaarloos toe ek dit gekoop het. Die huis was in `n haglike toestand, ek moes dit restoureer, maar dit was vir my `n uitdaging. Daarvandaan die naam, Nuutbegin.”

Sy is te kortasem om te reageer. Hy het skuins gedraai in die stoel om na haar te kyk. Sy oë speel met hare en sonder aanraking of woorde trek hy haar nader na hom. `n Gespanne stilte het onverwags tussen hulle ingesluip. Sy verbeel haar sy kan haar hart hoor klop of is dit syne wat so woes tekere gaan in sy kuiltjie?

“Dis laat, ek moet seker loop,” besluit hy heelwat later. Sy been raak aan hare toe hy regop kom. “Ek wou net kom nag sê. Lekker slaap. Jy verdien `n goeie rus na jou goeie vertoning…”

“Nag, Anton.“Soos `n sjampanje prop wat afskiet, ontsnap die spanning uit haar toe hy uitloop. Sy sak met `n snak na asem agteroor op die stoel. Hoe is dit moontlik?  Anton de Ridder het net met die kyk in sy oë, haar wêreld onderstebo gekeer. Maar van hierdie oomblik af is sy slaggereed vir hom. Sy sal haar nie weer so maklik laat oorrompel nie.

 “Hallo, ek is Bienkie.” Sonnika kyk verras na haar swanger buurvrou oorkant die straat en loop nader. Sy is pragtig, haar groot grys oë laat Sonnika dink aan `n nuuskierige nagapie.