hon015: HERFS

Pieter Honiball

Dit was altyd of hy lief was vir die rotte. Tog tragies.

Ons ander het tot vervelens toe valletjies gestel of gif uitgesit. Hy was anders. Menigmaal het ek op valletjies in die kaste of agter die stoof afgekom wat net oënskynlik vanself afgegaan het. Hy het dit ontken, maar ek kan hom nou nog sien glimlag as die rotte ritselend oor die plafon hardloop. So ‘n amperse grynslag.

Ek het gedink daar skort iets met sy CD-speler. Dit het permanent vasgehaak op L’Autunno; Herfs, van Vivaldi. Oor en oor, tot vervelens toe moes ons dit aanhoor. Dit was ook sy gunstelingtyd van die jaar, herfs, en die winter was al in sy doodsnikke, toe kon jy nog die herfs in sy oë sien. Hy het maar meesal in sy bed gelê en moenie probeer om die verdomde CD aan te skuif nie. Dan bars die hel los! So het ons geleef saam met die skrywer, Vivaldi se Herfs en die rotvoetjies oor die plafon. Ons het hom nooit sien skryf nie maar sy huur was vooruit betaal, en dit het gelyk of hy geld het. Hy het darem goed geëet, en daar was die HiFi.

Astraal, het hy beweer, kon hy homself projekteer. Oor sy lêery op die bed het hy gesê, dit was net sy anker vir wanneer hy agter die herfs aanvlieg en vry tussen die vallende blare rondsweef en in die goud van die skemerson baai. Ons het hom maar gelos, sy huur was betaal.

Dis net die rotte wat my so gepla het. Dit was asof dit erger geword het vandat hy daar ingetrek het, maar ‘n mens kan nie sê nie.

En toe kom die ding oor ons pad.

Ek het vroeg wakker geword, dit was bitter koud. Ek wou bietjie koffie gaan maak want ek was styf in die bene. Dit was nog stikdonker, net my flitsliggie teen die swaar donker. Die houtvloer het gekraak onder my al was ek versigtig om nie die ander wakker te maak nie. Ek moes verby sy kamer. Snaaks, ek hoor nou nog die Herfsmusiek en dan klokhelder die fyn gepiep en geritsel en gekraak. Ek sien ook nou nog in my flou flitsliggie die duisende blink ogies gulsig van die bed af opkyk. Tog tragies.

Die ambulansman sê hy het nie eers wakker geword nie. Sy huur is nog vir ‘n paar maande vooruit betaal, maar jy kan maar die kamer kry as jy wil.

Pieter Honiball

Pieter

Ek is Pieter Honiball, ook bekend as Ponsappel, en het studies in Filosofie tot honneursvlak onderneem. Ek het vir ‘n aantal jare skool gehou,  onder andere in Queenstown en Greyton in die Wes-Kaap.  Ek het voorheen gehelp met druiwe oes op wynplase en het op ‘n stadium my eie besigheid in Stellenbosch gehad. Ek woon tans in Bloemfontein waar ek as tolk by die Provinsiale Wetgewer werk. Ek het ‘n loopbaan in die akademie oorweeg,  maar het besluit om eerder op my skryfwerk te fokus.