san033: Die Skenker

Verblindende wit ligte. Die geskree van bande op ‘n sopnat reën deurweekte teerpad. ‘n Kind wat histeries huil. Harde slag, die geluid van metaal wat skeur. Donkerte wat genadiglik toevou.

Raymond skrik wakker, vee die sweet van sy voorkop. Sy hand reik na die kraffie water op die bedkassie. Hy les gulsig sy dors. Hy lig sy polshorlosie van die kassie, dit is lank na middernag. Hy vryf lui oor sy oë. Die droom was vannag weer dringender as gewoonlik. Hy weet dat dit tyd geword het, hy glimlag by die herinnering aan haar. Die wulpse rooikop wat op hom wag ….

‘n Vrou gil histeries, nog verblindende ligte. Ambulanse, mense wat saamdrom. Iewers huil iemand. Die lyfie lê slap in sy arms.  Dokters in groen oorjasse, maskers, handskoene, nog wit ligte. Die alomteenwoordige reuk van die hospitaal maak hom naar.

Raymond gooi van die water uit die kraffie oor sy hande, vee oor sy gesig en hare. Die herinneringe van daardie nag, vir ewig, in sy brein ingebrand. Daar was niks wat hy kon doen nie, daar was niks wat die dokters kon doen nie. Wit muur, absoluut niks. As hy maar net die wysers van tyd terug kon draai. Hy kan nie.

Die rooi vog wat vanuit die buise uit die volmaak geskaapte lyf pomp fassineer hom. Hy kyk toe hoedat die liggaam stadig, maar seker lewe verloor en dan dink hy; ‘n nikswerd lewe vir ‘n lewe.

                                      ***************

Luitenant Amelia van As skrik wakker van die skril geluid van haar selfoon. Net nie weer nie! Flits deur haar gedagtes.

“Van As…” die stem aan die ander kant klink benoud, dringend.

“Luitenant, hier is weer een! Lyk weer soos ‘n bloedoortapping! Die hospitaal het ook gebel, daar is weer ‘n coolbox afgelaai.”

“Ek is dadelik oppad! Is luitenant Swart op die toneel, wie is by die hospitaal? Wag, ek bel sommer self gou vir luitenant Swart.” Amelia raap gisteraand se klere van die stoel af op, pluk dit aan en haas na die badkamer. Tussen in skakel sy vir Swart, hy wag vir haar op die toneel. Sy spoel haar gesig af, trek vinnig ‘n kam deur haar hare, spoel haar mond. Inderhaas vertrek sy dan.

“Wat het ons?” wil sy by Swart weet met haar aankoms.

“Dieselfde storie. Dit lyk asof die bloed uit die lyf getap is. Daar is weer ‘n coolbox by die hospitaal afgelaai, sakkies vol bloed.”

“Laat ek raai, weer dieselfde boodskap? Plus die bloedgroep?”

“Net so! ‘n Nikswerd lewe, vir ‘n lewe. Amelia, ek weet die bloed is evidence …  maar wat as ‘n lewe dalk gered kon word? Met daardie bloed en dit sit by die stasie in ‘n koelkas? Wat as …?”

“Ek hoor wat jy sê Swart, maar jy weet dit kan nie anders nie. Buitendien, wanneer forensies klaar is, word die bloed tog weer hospitaal toe gestuur, jy weet dit tog! Wat gaan aan met jou?”

“Ag, dis niks, ek voel maar net … dan het die arme girl nie verniet gesterf nie, jy weet. Haar bloed red dalk ‘n kind se lewe.”

Amelia kan vir ‘n oomblik net na hom staar. Sedert die moorde begin het, is luitenant Swart beslis nie homself nie, dit is ook vir seker nie haar verbeelding nie. Sy frons, stap oor na waar die vrou nog steeds lê. Te oordeel na die merke aan die lyf en die bleek gelaat, was dit beslis weer die werk van die Skenker. Sy wissel ‘n paar woorde met die manne van forensies, dan moet hulle aanstaltes maak hospitaal toe. Wat sy nie kan verstaan nie, hoe op aarde is dit moontlik dat iemand met ‘n coolbox by die hospitaal kan in en uitstap, sonder dat enige iemand hom sien?

By die hospitaal is dit maar weer dieselfde storie as elke vorige keer. Nee, niemand het iets vreemds opgemerk nie. Niemand het die persoon met die koelhouer sien inkom nie, toe hulle weer sien, toe is dit net daar. Nes met al die vorige kere. Amelia sug. Terselfdertyd wonder sy waarheen luitenant Swart verdwyn het. Haar soektog na hom bring haar tot waar hy met ‘n dokter staan en gesels. Blykbaar is daar ‘n pasiënt wat dringend ‘n nier kort op die waglys, indien die pasiënt nie binne ‘n kort tydjie ‘n geskikte skenker vind nie, sal die gevolge ongelukkig fataal wees. As Amelia luitenant Swart se optrede vreemd vind, laat sy niks blyk nie. Hulle groet die hospitaal personeel en ry stasie toe.

                                      ******************

Sy planne is in orde, hy weet presies wat om te doen. Kom wat wil, hy sal die geskikte kandidaat vind. ‘n Nikswerd lewe vir ‘n lewe. Daar wag reeds drie pragtige jong dames op hom in sy kelder. Vanaand maak hy gereed vir kandidaat nommer vier.

“Wat maak ‘n ou soos jy in ‘n plek soos die.” fluister die soet stem hier teen sy oor. Hy glimlag, vriendelik, uitnodigend.

“Ek kan dieselfde vir jou vra, jong dame … Kom ons sê maar dat ek op soek is na iemand wat ‘n volwaardige lewe kan skenk. Jy lyk vir my nogal asof jy dalk ‘n geskikte kandidaat mag wees.”

Daar borrel ‘n giggel laggie oor die wulpse blondine se rooi besmeerde lippe. Sy stem in om ‘n drankie saam met hom te geniet. Raymond is in sy skik, dit is altyd so maklik om die leë kop flossies om sy pinkie te draai. Hulle val soos ryp pere in sy skoot. Hy knipoog vir haar en sy giggel guitig in antwoord. Ná nog ‘n paar drankies stem sy in om saam met hom huis toe te gaan. Raymond weet dat hierdie die regte ding is om te doen. Petronella gaan so trots wees op hom, wie weet, dalk, met iets so groot soos hierdie, mag sy hom dalk net vergewe vir destyds.

                                        ****************

Amelia sit met die dossiere voor haar. Noukeurig lees sy weer deur die saamgestelde profiel van die moordenaar. Sy kan nie haar vinger daarop lê nie, sy weet net, iewers is iets groot wat hulle miskyk. Haar gedagtes dwaal weer na luitenant Swart, hy tree baie vreemd op sedert die Skenker sy verwoesting hier in Gauteng begin saai het. Hoekom was hy so geïnteresseerd in die pasiënt wat ‘n niervervanging moet kry? Wat weet sy van hom, behalwe dat hy ‘n jaar of wat gelede vanuit Kaapstad hierheen oorgeplaas is? Niks! Sy weet absoluut niks van Ray Swart af nie! Sy trek die sleutelbord nader, amper automaties tik haar vingers sy naam uit op die sleutels; Luitenant Raymond Swart. Daar is ‘n rits toekennings vir sy jare in die polisiediens. Dan vang haar oog die ander berig: Luitenant Swart se seun sterf in gru-ongeluk Met ‘n ge-oefende oog fynkam sy die berig, daar is ‘n naar kol op haar maag toe sy lees dat die seun beswyk het aan sy beserings, asook asgevolg daarvan dat die hospitaal hom nie ‘n bloed – oortapping kon gee nie. Dit kan tog nie wees nie! Nee, sy is nou sommer net besig om na strooihalms te gryp. Dit is absurd. Tog – daar is Ray se vreemde optrede, sy skielike belangstelling in die pasiënt wat die nier kort? Nee… dalk moet sy eerder gaan slaap.

                                           ****************

“Nee, Ray! Dit is bloed, dit moet bloed wees, bloed of niks! Hulle kort bloed!” gil die vrou met die deurmekaar swart hare. Sy is amper histeries, sy verstaan nie hoekom Ray alles verander nie. Hy tree nader, sit sy arms om haar, vertroostend. Streel oor haar hare, hy moet haar laat verstaan dat hierdie veel groter is.

“Verstaan jy nie, Petronella? Hierdie is veel groter as net bloed! Dink net wat dit kan beteken, ons kan meer mense se lewens red hierdeur. En wie beter as jy, die briljante chirurg, om die niere uit te haal, ons kan altyd die bloed daarna uit tap. Dink net, dit is sommer twee vlieë met een klap. Nie net red jy ‘n lewe deur bloed nie, jy red ook ‘n volgende persoon wat dalk ‘n nier kort! Ek doen hierdie vir jou, Petronella. Hierdie, dit alles, is my soenoffer aan jou, in die hoop dat jy my eendag sal vergewe…”

Sy stoot hom liggies weg. Kyk in sy oë en dan knik sy inskiklik.

“Nou maar goed, Ray, dan sal ons lewens red met niere en bloed. My vingers jeuk al lankal om weer te kan werk. Dankie Ray, jy is wonderlik … en Ray … jy het van vandag af my volle vergifnis. Jy sal my moet help om die plek in te rig vir die operasies. Ek kan nie wag nie! Dankie liefling dat jy my weer toelaat om te werk.” Hy laat haar alleen, stap uit na buite, sy oë gevul met trane. Uiteindelik kan hy vir Jasper laat gaan, uiteindelik kan hy van die groot skuldgevoel ontslae raak. Petronella het hom vergewe, om haar gelukkig te sien is al wat vir hom saak maak. En sy is.

Die vier meisies tuur bang en grootoog na mekaar. Hulle het sopas uit die perd se bek verneem wat hulle lot gaan wees.

“Moet tog nie so verskrik lyk nie, julle. Daar wag ‘n baie belangrike taak op julle, die viertjies van julle gaan lewens red!” Petronella stap om die vier meisies, bekyk elkeen, sy lag. Ray is so reg, hierdie is soveel groter as net bloed! Sy kan weer werk!

                                               ************

Amelia kan net nie die gevoel afskud dat iets nie pluis is met Ray nie. Hoekom praat hy nooit oor sy kind nie? Waar is sy vrou, die berig het tog nie gemeld dat sy ook in die ongeluk was nie. Sy besluit op die ingewing van die oomblik dat sy hom prontuit gaan vra daarna. Dit sal vir haar meer gemoedsrus bring. Sy hou van Ray, dalk effens meer as wat goed is vir haar, maar sy doen. Dit is toe hulle stilhou vir koffie dat sy besluit om hom uit te vra.

“Ray …? “

“Hmm? Wat klink jy so ernstig vanmôre?”

“Daar is iets wat ek jou wil vra, dit is nogal, wel, persoonlik.”

“Shoot!”

“Hoekom het jy my nog nooit vertel van jou seun nie?” sy sien hoe hy effens verstyf, hy stort van die koffie en swets.”

“Daar is niks om te vertel nie, daar was ‘n ongeluk, my seun is dood, einde van die storie. Ek praat nie graag daaroor nie.”

“Waar is sy ma, Ray? Ek het die berig gelees en daar word geen melding van haar gemaak nie?”

“Sy het my gelos, neem my kwalik vir ons seun se dood, einde van die storie. Kan ons nou die gesprek verander, asseblief?”

“Natuurlik, jammer. Daar is net nog een ding… ?”

Ray stort weer van die koffie, swets en neuk die koffie met beker en al by die ruit uit. Wat gaan tog vanmôre met van As aan! Hoekom al die simpel klomp vrae? Netnou sit sy een en twee bymekaar, en dit wil hy ten alle koste verhoed. Hy kan nie bekostig om alles met Petronella weer op te mors nie, sy het hom sopas vergewe. En hy moes blêddie hard werk vir daai vergifnis.

“Wat is dit tog vanmôre met jou en die twenty questions game?” vra hy bars.

“Ek wil net weet hoekom jy nooit melding gemaak het van die soortgelyke geval in Kaapstad nie, dit is al, Ray.” sê Amelia dan.

“Ek weet nie, Amelia. Dalk het dit my ontgaan, dalk wou ek nie weer daaraan herinner word nie. Daar was net die een geval, dit was kort na my seun se dood, my vrou het my verlaat, ek was ‘n totale wrak. Tevrede? Buitendien, ‘n goeie luitenant soos jy, weet mos hoe om jou huiswerk te doen. Blêddie hel! Is ek nou een van jou verdagtes, dalk jou nommer een?” swets hy.

“Stadig, Ray, ek is jammer, ek sal nie weer persoonlik raak nie.” In stilte ry hulle polisie stasie toe, elkeen besig met sy eie denke.

                                               ************

Petronella kon nie langer wag nie. Sy is ingeskrop en gereed om met die operasies voort te gaan. Sy glimlag, Jasper sal so trots wees op sy mamma, sy mamma, die skenker van tweede kanse. Die eerste meisie lê uitgestrek op die “operasie tafel”, sy het die mooi enetjie met die roesbruin hare gekies, iets in die meisie se mooi blou oë het vir haar gesê dat sy gereed is, slaggereed om iemand ‘n tweede kans op die lewe te gee. Skalpel in die hand stap sy nader, streel oor die meisie se lang hare, vertroostend. Die meisie huil, die ander drie ook. Weet hulle dan nie? Weet hulle nie hoe ‘n groot eer dit is om ‘n lewe te red nie?

“Sjuuut, toemaar, dit sal alles gou verby wees. Ek belowe dat ek dit so pynloos moontlik sal probeer hou, oukei. Jy gaan ‘n lewe red, ‘n lewe wat meer beteken as die nikswerd lewe wat jy tot dusver gelei het. Ek meen, jy is ‘n stripper in ‘n bar, nie waar nie? Dit is tog geen lewe wat die moeite werd kan wees nie. Dink so daaraan; jy red dalk die lewe van ‘n dokter, onderwyser, dalk ‘n prokureur, iemand wat iets werd sal wees vir die samelewing. ‘n Nikswerd lewe vir ‘n lewe, is my motto. Lê nou mooi stil.”

Die ander meisies kyk histeries toe hoedat die mal vrou se skalpel wegsink in die meisie se lyf. Hoor die gedempte gille van die vasgemaakte meisie op die tafel.

Met presiese vinnige hale kerf die chirurg die meisie se lyf oop. Die nier word perfeksionisties verwyder en in ‘n groterige houer op ys geplaas. Die wond word vinnig weer toegewerk. Nádat die operasie verby is, word daar pype gekoppel aan die ongelukkige meisie se lyf, bloed pomp vinnig deur die pype. Petronella lag selfvoldaan. Eintlik het sy nie vir Ray nodig nie, dit het tyd geword. Tyd dat hy moet boet vir sy onbesonne dade …

“Julle drietjies moet goed uitrus vanaand, môre kry een van julle weer ‘n beurt om ‘n lewe te red!” sê sy en verlaat die vertrek.

                                        ************

“Luitenant van As, luitenant Swart, daar is nuwe verwikkelinge!” knars dit oor die radio, “daar is weer ‘n coolbox by die hospitaal afgelaai, hierdie keer is daar ‘n nier in! Daar is nog een, met die gebruiklike sakkies bloed in! Kom dadelik na die hospitaal!” Raymond is spierwit, wat het Petronella besiel! Hy gryp na die radio, lig die stasie in dat hulle dadelik op pad is hospitaal toe. Amelia slaak ‘n sug van verligting, dit kan nie Ray wees nie, hier sit hy, saam met haar! By die hospitaal heers algehele chaos.

Hierdie keer is daar ‘n nota onder aan die verkoeler geplak. Amelia is die eerste om dit onder oë te kry;

‘Asseblief, HELP! Ek is ‘n chirurg, my naam is Petronella Swart, die vrou van luitenant Swart. Ek word saam met drie ander meisies in sy kelder aangehou om sy vuilwerk te doen. Hy glo deur wat hy doen, vergoed hy vir die dood van ons liefling seun.’

Wat Amelia aantref by Ray se huis, laat die bloed in haar are stol. Drie meisies hang vanuit die dak, pype oral aan hul lywe gekoppel, bloed wat rooi deur die pype pomp. ‘n Verskrikte vrou met deurmekaar swart hare, eenkant in ‘n hoek, haar hande en voete met cable ties verbind, sy snik paniekerig, bang.

“Toemaar, mevrou, ons het hom, hy word in hegtenis geneem op hierdie oomblik, soos ons hier staan. U moet by ‘n hospitaal kom.”

                                   ************

“Asseblief, Amelia, jy moet my glo! Ek is onskuldig! Goed, ek gee toe, ek het vir haar die meisies huis toe gelok, maar dit was al! Julle moet haar keer, sy is siek, gevaarlik siek! Jy moet my glo!”

“Raymond! Bly stil! Jy het hulp nodig, Ray, jy is die siek een…” sê sy en kan dit nie uitstaan om langer in sy smekende grou oë vas te kyk nie. Sy draai om, vee ‘n traan uit haar eie oog en stap uit.

Daardie nag word sy wakker gebel met die skokkende nuus dat luitenant Raymond Swart sy eie lewe geneem het.

                                          ****************

Meer as drie maande later. Amelia sit met die oggendkoerant voor haar, geniet ‘n lekker warm koppie koffie. Skokgolwe ruk deur haar toe sy die koerant oopvou, vet swart letters dans voor haar oë – die hoofberig: Twee klein verkoelers is gister nag by ‘n hospitaal in Kaapstad afgelaai. Een met ‘n nier, die ander met sakkies vol bloed. Daar was ‘n nota by: ‘n Nikswerd lewe vir ‘n lewe – Die Skenker.

© Santi Kruger.

Santi Kruger

Ek is Santi en ek is versot op stories maak en dig.

Ek skryf (probeer skryf) in alle genres – ek skryf vir kinders, ek dig en skryf kortverhale. My voorkeur is egter spanningsverhale en rillers. Ek het egter ook my hand gewaag aan ‘n paar humoristiese en romantiese verhale wat ek hoop om in die toekoms met lesers te deel. Ek hoop dat lesers my vertellings sal geniet.

Ek was ook in 2019 betrokke by ‘n liefdadigheidsprojek deur Alta van Zyl van Hope Anointed Ministries. ’n Bundel Spore van Genade was die resultaat daarvan. 40 digters en skrywers se werke is hierin saamgevat en van my gedigte (oor swaarkry, mishandeling, dwelmmisbruik) asook kortverhale kan hierin gelees word. Die opbrengs uit die bundel gaan vir liefdadigheid. Dit is ook by boekwinkels landwyd beskikbaar en ook op Amazon:

Santi 1
Santi 2