Die tafel is keurig gedek. Sy maak seker dat die wynglase blink, dat elke ding op sy plek is. Noukeurig stryk sy die fyn kreukels met haar hand uit die tafeldoek. Vlugtig kyk sy na die duur polshorlosie om haar arm. Haar gas behoort enige oomblik op te daag. Nick was nog altyd gesteld daarop om ‘n afspraak stiptelik op tyd na te kom. Dit pas haar goed.
Sy stap na haar kamer. Voor die spieël steek sy vas, glimlag. Sy is seker dat haar voorkoms Nick se goedkeuring sal dra.
Sy en Nick was beste maats sedert hul Laerskooldae. Wat hy nie geweet het nie, was dat sy nog altyd heimlik verlief was op hom. Vir hom was sy egter net nog ‘n goeie vriendin ‘n pêl met wie hy alles kon deel. Sy was daar vir hom deur elke liefdesteleurstelling, met elke groot mylpaal wat hy behaal het, in alles was sy daar vir hom. Sy was net Sonja, sy beste maat, sy vertroueling, sy beste vriendin. Haar eie gevoelens vir hom het sy egter diep in haar hart gebêre. Hy sou nooit, kon nooit weet dat sy hom liefgehad het nie.
Stiptelik, op die sewende slag van die muurhorlosie in die voorportaal, is daar ‘n ligte klop aan haar voordeur.
Haar hart mis ‘n slag. Hy staan voor haar en hou ‘n groot bos rooi angeliere uit na haar. Sonja wonder vlugtig of sy sal kan doen wat sy moet. Hy glimlag, haar hart mis weer.
“Goeienaand, liefste Sonja, nooi jy my nie in nie?”
“Natuurlik! Kom binne.” sy bloos, stoot die deur wyer oop.
“Dit ruik fantasties! Ek is juis so honger dat ek ‘n bees kan opeet. Gelukkig vir my, dra ek eerstehandse kennis dat my goeie vriendin, ‘n bobaas kok is. Wat eet ons?”
Sonja se gedagtes is by die kontrak. Sy betwyfel skielik haar eie vermoeëns. Sy is nie seker of sy die opdrag kan uitvoer nie. Grepe herinneringe flits skielik deur haar gedagtes. Sy en Nick wat skater oor ‘n flou grappie. Nick wat haar sag, vertroostend vashou. Haar hande vertroostend in syne.
“Sonja….? Sons, is alles reg met jou?”
Sonja skud haar kop asof sy so van haar gedagtes ontslae kan raak. Sy kan nie nou vou nie. Sy is hier vir een rede en een rede alleen – die kontrak. Sy draai na hom, glimlag fyn.
“Jammer Nicks, vir ‘n oomblik daar, was ek op my eie planeet. Ek hoop jy is honger, want ek was weer oordadig. Ek het so lanklaas gekook, en die resultaat is kos vir ‘n hele weermag. Kom sit. Wyn?”
Nick se oë gly na die keurig gedekte tafel. Hy besef skielik dat hy rasend is. Hy merk dat daar twee wynkraffies op die tafel staan. Hy trek die eerste kraffie nader. Sy glimlag. Hy weet nie of hy hom dit verbeel nie, Sonja is nie haarself nie.
“Kan ek vir jou skink? Sons, wil jy my nie maar vertel wat so swaar op jou hart druk nie? Jy is…. Anders…..?”
Net twee woorde vorm in haar gedagtes – die kontrak.
“Nee, man, jy verbeel jou dit Nick. Die skaapboud het nog net so vyf minute nodig. Vertel my eerder, is daar al ‘n nuwe liefde op die horison? Waarmee hou jy jouself deesdae besig? Dit voel asof ons dekades laas lekker kon kuier, weet jy? Ek is bly jy is hier. Ek het my ‘buddy’ gemis.”
“Wyn?” vra hy weer. Hy glimlag en hou ‘n glas na haar uit.
Vat dan die glas uit sy hand. Sy drink egter nie daarvan nie. Die glas kry ‘n staanplek tussen die vrugtebakke op die houtblad van die ingeboude kaste in die oopplan kombuis. Sy kan Nick se oë op haar voel terwyl sy werkskaf by die oond. Vlugtig dwaal haar gedagtes na die kontrak in die bruin koevert. Nick Duval, staan sy naam daarop geskrywe, in groot swart letters. Sy staan met haar rug na hom. Nick kan dus nie die enkele traan wat teen haar wang afbiggel sien nie. Ook kan hy nie sien toe sy die wynglas ruil vir ‘n ander een, ook versteek tussen die vrugtebakke. Sy loop na die tafel, sit die glas oorkant haar bord neer. Glimlag vir hom, misterius. Hy glimlag terug, lig sy glas. Teug daaraan.
“Smaaklike ete!” sy plaas die gekerfde skaapboud tussen hulle op die tafel. Nick se mond water. Hy is honger.
“Sal ek vir jou opskep? Nog wyn vir saam met die ete?” en dan voeg sy die daad by die woord. Sy skep ‘n heerlike bord met van die geurige skaapboud vir hom op, saam met die gebakte aartappels waarvoor hy so lief is. Top sy wyn op.
Vir haarself skep sy egter net van die groente op.
“Ek moet ‘n paar kilogramme afskud!” glimlag sy toe hy vraend na haar amper leë bord staar.
“Wat is dit met die mooiste, maerste vroue, dat hul altyd voel dat hul nie maer of mooi genoeg is nie? Jy is perfek, net soos jy is, Sons!” hy knipoog, haar hart mis ‘n slag.
Sy naam in groot swart letters op ‘n wit vel papier, bly aan haar binneste knaag. Is sy opgewasse vir hierdie taak? Sy kyk op haar polshorlosie – die pragtige juweel, was ‘n geskenk van hom. Daar is buitendien nie meer omdraai kans nie. Nick drink reeds sy tweede glas wyn. Hy smul al te heerlik aan die laaste avondmaal, voorberei vir hom.
“Op daardie noot,” hy sit die eetgerei neer, “daar is iets baie belangrik wat ek met jou moet bespreek, Sonja.”
Sy sê niks, kyk net vraend na hom.
“Ek het ‘n paar dae gelede in ‘n verkeersknoop gesit. Dit was daar toe die besef my skielik tref. Nes ‘n voorhamer tussen die oë het dit my gemoker. Wat ek probeer sê, Sonja, is dat ek tot die besef gekom het, ek het jou lief, jy is en was nog altyd die een. Ek was ‘n gek, voorheen, jy is vir my gemaak, uitgeknip. Ons het mekaar nog altyd aangevul.”
Sy kan net na hom staar. Geen uitkom kans. Gedane sake het geen keer nie. Daar is geen nut om te huil oor verspilde melk nie, flits die gedagtes deur haar kop. Dit is tyd.
“Sonja…? Sê iets, asseblief, ek het jou lief, Sons.”
Vervlaks! Hoekom nou! Sy kyk af na haar polshorlosie.
“Ek is jammer.” haar woorde is net ‘n sagte fluistering.
Sy kyk toe as hy ongemaklik begin raak. Hy knip sy oë asof hy sukkel om te fokus. Karring sy das los. Die wynglas tuimel uit sy hand, daar is ‘n pleitende blik in die blou oë voordat hy hulle finaal sluit. Sonja beweeg vinnig na hom.
Die Laksman se werk is volbring. Nou kan sy aanbeweeg na die volgende kontrak. Sy sal hierdie woonstel opgee, ‘n nuwe tuiste vind. Haar volgende teiken bewerk.
Sy stap na die foon, sy moet reël vir opruimingswerk.
“Dit is gedoen.” sê sy voor sy die gehoorbuis terugplaas op die mikkie. Dan raak sy ontslae van die wyn in die kraffie, asook die in die wynglase. Die orige kos word saam met die wynglase in ‘n groot plastiek sak gegooi. Om netnou saam met alle bewyse te vernietig. Sy raak ook ontslae van die rooi pruik wat sy gedra het. Die deftige swart nommertjie word verruil vir tekkies en jeans. Die rooi pruik word met ‘n blonde een vervang. Sy prop die klere en pruik in die sak
Vir ‘n laaste keer, kyk sy na die man, die een wat sy met haar hele hart bemin het. Haar “Totsiens, Nick” is net ‘n sagte fluistering. Sy het klaar besluit, vannag nog, sal sy aandring op ‘n nuwe kontrak. ‘n Kontrak vir Sonja de Wet, alias, Die Laksman. Sy kyk weer op die mooi polshorlosie.
Daar is ‘n klop aan die deur.
Dit is die “Cleaning Lady.”
“Jy is laat!”
“Ek is nou hier, is ek nie! En jy is harteloos, mej. Laksman.”
“Dit was ‘n kontrak, Mercia. Ek het gedoen wat ek moes. Hy het vir my gesê dat hy my liefhet, vanaand, dat ek nog altyd die een was en is. Hy het my nog altyd liefgehad.”
“Maggies! En jy gaan toe sowaar voort! En hoe voel jy oor sy bekentenis?”
“Teenoor die feit dat hy vanaand erken het dat hy my nog altyd liefgehad het? Ek staan ambivalent teenoor daardie feit, teenoor sy erkenning, teenoor die feit dat hy dit gesê het, waarna ek al hierdie jare gesmag het om te hoor. Ek moet gaan, die volgende kontrak wag vir my, totsiens, Mercia.”
En dan stap Die Laksman by die voordeur uit.
Santi Kruger

Ek is Santi en ek is versot op stories maak en dig.
Ek skryf (probeer skryf) in alle genres – ek skryf vir kinders, ek dig en skryf kortverhale. My voorkeur is egter spanningsverhale en rillers. Ek het egter ook my hand gewaag aan ‘n paar humoristiese en romantiese verhale wat ek hoop om in die toekoms met lesers te deel. Ek hoop dat lesers my vertellings sal geniet.
Ek was ook in 2019 betrokke by ‘n liefdadigheidsprojek deur Alta van Zyl van Hope Anointed Ministries. ’n Bundel Spore van Genade was die resultaat daarvan. 40 digters en skrywers se werke is hierin saamgevat en van my gedigte (oor swaarkry, mishandeling, dwelmmisbruik) asook kortverhale kan hierin gelees word. Die opbrengs uit die bundel gaan vir liefdadigheid. Dit is ook by boekwinkels landwyd beskikbaar en ook op Amazon:

