Teuns staar by die venster uit oor die Karoo se eindelose plat vlaktes. Dit is weer ʼn besonderse warm dag vandag, want dit is nog vroeg oggend en die hitte walms dans en bewe reeds op die horison. Hier waar hy sit, voel hy reeds hoe straaltjies sweet teen sy sye afloop. Dan dwaal sy blik weer terug na die vertrek waarbinne hy sit en sy oog vang eerstens die bloedrooi blom wat in ʼn pragtige kristalvaas voor hom op die eikehouttafel staan. ʼn Tafel wat sy pa nog kort voor sy ontydige dood met soveel trots gemaak het en by hulle gaan spog het dat dit die beste houtwerkstuk is wat hy nog gemaak het. Teuns kyk dan na sy ma wat so half verskuil oorkant en agter die bloedrooi blom in die vaas sit. Sy was op haar dag ʼn beeldskone vrou gewees, maar die afgelope ses maande se hartseer en spanning het die glans in haar hare heeltemal laat verdwyn, haar gesig het diep lyne bygekry en sy sit effe geboë vooroor en kyk na hom. Teuns dink terug aan ses maande gelede, toe sy pa so wreed van hulle af weggeneem is deur die noodlot. Hoekom moes die bakkie se band gebars het? Hoekom moes sy pa se bakkie juis toe in die enigste groot boom langs die pad in gaan vasjaag het? Hoekom kon hy nie maar net ernstig beseer gewees het nie, dan was hy vandag nog met hulle? Hierdie en ander vrae bly maal deur Teuns se kop, maar hy het nie ʼn antwoorde vir een van hulle nie. Al wat hy kan doen is om dit maar te probeer aanvaar, verwerk en voort te gaan in die lewe. Die lewe is soms so geweldig onregverdig, want sy ouers, hyself, sy twee broers en een sussie wat nou almal op Universiteit is, was seker die gelukkigste en bevoorregste gesin op aarde. Hulle pa was ʼn uitstekende Karoo boer, hulle was geseën en het letterlik niks gekort in die lewe nie. Maar in ʼn oogwink het die lewe hulle almal se lewens baie hard geruk en nou sal sekere dinge nooit weer dieselfde wees nie.
Hy het besluit om die naweek gou deur te ry van die Universiteit in die Vrystaat om sy ma te kom ondersteun op die plaas. Die tydelike voorman wat sy gekry het, tot die plaas vorentoe verkoop gaan word, is nie juis wat wonders met die skaapboerdery nie en hy weet dat dit sy ma nog meer ontstel. Teuns was so ingedagte met al die emosies hier diep binne in hom, dat hy nie eers agtergekom het dat sy ma intussen opgestaan het en nou ʼn heerlike stomende, koppie koffie en ʼn beskuitjie voor hom kom neersit het nie. Die ma van hom darem. Seker die geliefste vrou in die hele Karoo, wat altyd tyd het vir almal en help waar sy kan. Haar hande staan ook vir niks verkeerd nie, maar sedert die tragiese dag het baie van haar mooi eienskappe in ʼn groot mate verdwyn. Sy het baie van haar dryfkrag in die lewe verloor en Teuns kan in haar oë sien dat sy haar man ontsettend mis. Hy en haar kinders was vir haar alles in die lewe en het sy altyd uit haar pad gegaan om hulle gelukkig te maak en te probeer hou. Die reuk van die vars koffie in sy neus laat Teuns vinnig terugdink aan die paar jare wat hulle in Lambertsbaai gebly het, waarna sy Pa toe by sy oupa op die Karoo plaas gaan oorneem het. Van Teuns se lekkerste tye daar was wanneer dit gereën het. Hy was dan lief daarvoor om met net sy swembroek aan, in die nat teerstraat af te stap na die Griek se kafee op die hoek, daar kougom te koop en dan al kouende verder af te stap na die hawe toe. Die mossels wat hy daar gekoop het, het sy ma altyd ontskep in van die lekkerste maaltye wat hy nog geëet het. Teuns ruk homself uit sy gedagtes weg en kyk dan sy ma reguit in haar oë. Ma, weet ma wat? Wat, sê maar my kind en sy ma kyk hom met liefdevolle oë aan, maar waarin hy ook groot hartseer sien skuil. Met trane wat oor sy wange loop en op die eikehouttafel voor hom drup, sonder dat hy dit amper agterkom, sê Teuns eindelik. “Ma, hierdie bloedrooi blom, is presies dieselfde soort blom en kleur wat ek gekoop het en op Pa se graf gaan sit het, net voor ek huis toe gekom het…”
Pieter Haasbroek

Pieter is gebore in Pretoria, maar het egter grootgeword op ‘n beesplaas in die Vryburg omgewing. Hy is een van sewe kinders en het ‘n tweeling suster. Hy was eers twee jaar in die weermag en is daarna Universiteit van die Vrystaat toe waar hy drie grade verwerf het. Pieter het vir meer as twintig jaar vir die staat (Landbounavorsingsraad) gewerk as Landbouweerkundige navorser en vandag werk hy vir ‘n privaat instansie as Landbouweerkundige. Hy woon in die Strand, Wes-Kaap, en het ‘n baie oulike meisie in sy lewe. Hy het vele stokperdjies wat hom besig hou na-ure en een van sy gunstelinge is die versameling van Afrikaanse boeke en die lees daarvan. Pieter het sy eie biblioteek van Afrikaanse boeke in sy motorhuis en een van sy langtermyn projekte is om te kyk hoeveel daarvan hy weer kan beskikbaar stel vir die lesers in Suid-Afrika.
Pieter se webwerf het hy self geskep en handel oor voorblaaie en ander inligting van SA se Afrikaanse Stories van hoofsaaklik die vyftig- en sestigerjare. Hier is die adres: www.softcoverbooks.co.za
Pieter se blog is Sagtebandleesboeke.blogspot.com