ger012: Die besluit

Vanwaar die onderdane die sjeik dophou, lyk dit soos ‘n mirage teen die wit agtergrond van ‘n wolk. Ruiter en perd is ‘n waas in die bewende hittegolwe teen die bleek duin.

Amir, die stalmeester, glimlag ingenome. Vandag beleef sy jong sjeik volkome die euforie van die driejarige, wit hings onder hom. Zafir, die volbloed Arabierhings met roemryke voorouers, is topfiks en ’n borrelende kookpot van energie. Dit is sy verjaarsdaggeskenk aan sy geliefde sjeik.

Sjeik Hamza Al-Amir lag oopmond terwyl die perd teen die lae duin af galop. Sy wit dishdasha wapper in die wind, die pante klap agter hom soos die vlerke van ’n wit duif. Die lang, wit maanhare van die perd speel om sy hande wat kneukelwit styf vashou en die perd se baldadigheid tem.

Aan die voet van die duin is die sand vaster. Hy gee die perd vrye teuels. Dis asof Zafir die heeltyd hierop gewag het. Hy kopspeel ’n paar keer en laat dan sy kop sak en met rillings wat deur sy spiere hardloop, jaaggalop hy die laaste driehonderd meter na die kringetjie wat met bewondering en na die jong sjeik staar. Hamza sit vooroor gebuig soos ’n jokkie en wieg in dolle vaart op die perd se rug, opwinding in sy oë en in sy hart.

Hulle ploeg tot stilstand. Hamza spring uit die saal en oorhandig die teuels aan ’n stalkneg. Hy sit sy hande op Amir se skouers.

“Zafir het sy naam vandag gestand gedoen. Dit beteken mos ‘die wenner’. Daar is nie een perd in ons emiraat wat by hom kan kers vashou nie.”

Die stalmeester glimlag van oor tot oor: “Daar is nie, my heer. Zafir is die heel beste.”

“En jy het hom so goed geteel en grootgemaak. Dankie, Amir. Daar is nie nog een soos jy nie!”

“Dankie, my heer,” sê hy nederig en verleë. Sjeik Hamza is so jonk en mensliewend, so gul met sy lofprysings, so sagmoedig. So anders as sy pa wat bekend was vir sy ongenaakbaarheid.

“Ofir het ook ’n geskenk vir u,” probeer hy sy verleentheid bedek. Hamza kyk na die valkenier. Die valk op sy hand sit soos ’n sfinks doodstil met sy oogklappie aan.

“Julle bederf my darem baie vandag!”

“Sjeik, kyk daar!” Die stalkneg wys oor die woestyn.

Hamza steek in sy spore vas. ’n Khaki Jeep kom oor die duine aangejaag. Dit hop oor lae sandwalle en land soms skeef en dis duidelik dat die bestuurder oneindig moeite het om dit te beheer. Wit stofwolke draai in ’n kolk agter hom.

Die Jeep sleep tot stilstand by hulle. Onmiddellik spring ’n jong soldaat uit.

“Sjeik! U moet paleis toe kom! Nasir al-Din is ernstig beseer!”

“Nasir beseer …?”

“Kom gou, Sjeik! Asseblief!” Die soldaat gil onbeheersd.

Die woorde skok Hamza uit sy verstarring. Hy spring in die Jeep. Die soldaat is skaars in sy sitplek of Hamza vertrek met tollende wiele.

“Wat het gebeur?”

“Ek weet nie, Sjeik. Die hoof van die paleiswag het net geskree ek moet jaag en u kom haal. Dis al wat ek weet.”

Hamza konsentreer verbete terwyl hy in volle vaart oor die sandwalle jaag. Allah, laat Nasir tog net niks oorkom nie! Nie nou nie! Nie op my verjaarsdag nie, asseblief! Hy moet nog drie jaar uithou tot ek die regering oorneem wanneer ek mondig word. Dis mos wat my vader, die vorige emir, hom beveel het. Ek is nie gereed nie!

Die bevelvoerder van die paleiswag is daar wanneer die Jeep met skreeuende bande voor die paleis stilhou.

“Hy is in die siekekamer.”

Hamza storm die twee stelle trappe op, draai regs en hardloop met die gang langs na die laaste kamer. Die dokter staan voor die deur.

“Sjeik, wag eers!”

Hamza storm by hom verby die kamer binne maar skok tot stilstand toe hy die bleek figuur tussen die wit lakens sien.

“Nasir!”

“Sjeik,” kom dit byna onhoorbaar tussen die droë lippe uit.

Hy kom half regop maar dan hoes hy. Hamza is reeds by hom en hou sy hand voor Nasir se mond. Hoesbloed loop oor sy hand en hy kyk verdwaas daarna.

“Dokter! Dokter!” Die dokter kom haastig binne.

“Hoekom lê hy hier? Hoekom is hy nie in die hospitaal nie? Hoekom opereer julle nie op hom nie? Hoekom probeer julle nie sy lewe red nie? Hoekom?”

“Sjeik, dis wat ek jou wou vertel het. Hy is aangeval met ’n kort steekswaard en verskeie kere gesteek. Omtrent al sy vitale organe is deurboor. Hy lê op sterwe en hy wil met jou praat. Ek laat julle ’n paar oomblikke alleen.”

“Sjeik …” Dis omtrent net ’n hoorbare geruis.

”Nasir, my vader, moenie praat nie. Ons moet jou gesond kry.”

Nasir skud sy kop. “Die voorspelling van die ou, wyse man is vervul. Ek sal aan die hand van ’n swaardsteker omkom. Dis Allah se wil!”

“Nee! Dit kán nie sy wil wees nie. Wil jy vertrek en ek moet alleen agterbly? Vir hoeveel jare het jy my gelei? Jy het die emiraat wys regeer. Jy het die besluite oor vonnisse geneem, dispute onder die sjeiks wys beredder, die staat se finansies in orde gehou …”

Sy stem breek. Hy wil sê: jy is Nasir al-Din, met die eretitel Beskermer van die Geloof. Dan klink dit skor: “Wie het hierdie vervloekte daad verrig? Wie is jou vyand?”

“Jou vyand is my vyand. Ek het jou baie keer gewaarsku. Die Swart Slang …”

Verbysterd kyk Hamza na Nasir wat nou sy oë toegemaak het. Hy kan dit nie glo nie! Sy neef, sy jeugmaat, sy boesemvriend! Kan tog nie wees nie! Hy het nooit geglo dit kan so ernstig wees nie. Nasir se agterdog was onnodig, het hy altyd gedink.

Abdullah is sy pa se broer. Sy pa het altyd gesê Abdullah is half mal in sy kop. Hulle het hom spottenderwys die bynaam Swart Slang gegee. Partykeer het Abdullah hom verbeel hy moes eintlik die emir gewees het. Kon hy vir Ela, sy seun en my boesemvriend, so beïnvloed het en opgesweep het om moord te pleeg? Hamza skud sy kop. Was ek so kortsigtig? Toe hulle jonk was, was hulle die grootste vriende. Deur die jare het daar verwydering gekom. Kon dit jaloesie gewees het wat dan wrewel geword het en oorgegaan het in haat?

Ontredderd skud hy sy kop.

Hy kyk weer na die lewelose hopie mens onder die lakens. Hy weet nou Nasir se agterdog was nie onnodig nie. Hy skud sy kop in ongeloof. Dan was die vrienskap vals en hy al die jare naïef. Nee!

“Wat nou, Nasir? Help my!”

Nasir skud net sy kop en prewel: “Jy is vandag agtien jaar oud. Jy neem oor. Jy is nou die emir. My dae is verby.”

“Maar wat moet ek doen aan ons vyande?”

Nasir maak sy oë stadig oop en draai sy kop na Hamza. Vir oulaas kyk reeds glasige oë na hom.

“Dit kan ek nie vir jou sê nie, Emir. Jou naam is Hamza Al-Amir, die Leeuleier. Allah sal jou help.”

Sy kop draai terug; sy oë val toe; hy sterf met ’n sug.

Lank sit Hamza vooroorgeboë langs die lyk. Die dokter het intussen stilweg ingekom. Vir die emiraat, weet hy, het ’n nuwe era aangebreek. Selfs al is die emiraat een van die kleinste, een van die rykste en een van die rustigste, is opstand en oproer altyd moontlik indien daar nie ’n ysterhand is nie. Die aasvoëls sit oorgehaal vir ’n oomblik van swakheid.

“Emir,” sê hy sag, “kan ek nou by die lyk kom en die nodige vir hom doen?”

Hamza staan in ’n waas op. Hy knik net en stap uit. Traag loop hy deur die gang en die trappe af na sy vader se kantoor. Hy gaan sit agter die massiewe lessenaar. Hy kyk lank na die groot foto van sy vader teen die muur. Wat moet ek doen, Vader? Maar die dooie, grys oë kyk sonder antwoorde terug na hom.

Die hoof van die paleiswag kom in en wag dat Hamza moet opkyk en hom erken. Sy hart klop in sy keel. Sê nou die emir beskuldig hom van nalatigheid?

“Shalim, julle moet dadelik die skuldige arresteer!”

“Ons het reeds, Emir. Hy is in die gevangenis. Ons wag op u opdrag. Ek moet net bysê, Emir, Abdullah staan voor die paleis met ’n hoop geld. Hy wil bloedgeld, diya, betaal om sy seun te red.”

Hamza staan stadig op. Hy kyk nog een slag na die beeld van sy vader. Dan trek hy hom regop. Hy skud sy skouers asof hy ’n groot las daarvan wil afskud.

’n Oog vir ’n oog. Bloed vir bloed. Geen diya nie!

“Shalim, beveel die laksman om gereed te wees. Hy moet sy sabel goed skerp maak.”

Om Shalim se mondhoeke pluk ’n vinnige glimlag. Die Leeuleier! Hy ontspan. Sy pos is veilig.

“Môreoggend as die son opkom! Beveel, namens my, die sjeiks van al die stamme om teenwoordig te wees!”

Oor die skrywer

Gert van Jaarsveld (by kollegas en vriende bekend as Jarries) is ’n afgetrede professor in Afrikaanse Taalkunde. Afgesien van boeke en talle akademiese artikels gedurende sy akademiese loopbaan, het hy reeds as jong onderwyser kortverhale geskryf wat hoofsaaklik in Die Brandwag gepubliseer is. Hy het ook ’n roman by Lapa gepubliseer en ‘n e-boek by Kobo. Hy skryf ook rubrieke vir koerante en is betrokke by beoordeling van verhale by ’n skrywersgroep.

Hy bestuur Hestia 007 Promosies wat onder andere die volgende taalkundige dienste lewer:

  • Vertaling, wedersyds Afrikaans en Engels
  • Proeflees en redigering