“Aletta,” sê hy baie saggies, druk met sy palm teen haar bors.
“Nie nou nie,” sê sy dringend. “Dis daardie tyd van die maand.” Sy vat sy hand en dwing dit weg van haar bors. Dan draai sy haar rug op hom en trek haar soos ‘n krimpvarkie in ‘n bondeltjie.
Vir ‘n oomblik voel sy sy hand teen haar rug, dan is dit weg. Dan vloek hy. Dan hoor sy sy voetstappe op die gras. ‘n Rukkie later klap die perdepote die maanverligte nag in.
Dankie, Katryn. Baie dankie.
Die oggendson kruip eers luierig oor die horison. Sy vriendelike, goue strale blink op die doubenatte gras en speel oor die geitjies en koggelmanders wat gulsig lek aan die spriete. Sy het later geslaap as gewoonlik, dink sy toe sy wakker word. Dis stil en rustig om die wa. Die donkies wei digby langs ‘n plaat kameeldorings. Die enigste geluid is die harde gesnork van ‘n man wat te diep in twee bottels gekyk het. Hy lê lankuit langs die dooie vuur. Sy walg by die aanskoue daarvan. Wat sou hy omgegee het as die vreemdeling haar verkrag het? Hy sou dit nie eers geweet het nie.
Die kapel is ongedurig. Hy is honger. Hy het nie ‘n goeie nag gehad nie. Hy seil onder die groot rots uit en lê en bak in die oggendsonnetjie. ‘n Moedswillige steekvlieg tempteer hom. Sy tong blits in en uit. Dalk kom hier ‘n vroeë muis aangeloop. Hy seil om die rots tot in die koelte en wikkel sy lyf in die sand om hom goed te kamoefleer. Dan laat hy sy kop sak en hy wag.
Aletta is nie honger nie. Haar pa sal in ieder geval nog ‘n paar uur slaap. Sy stap aan in die rigting van die rivier. Voordat die grond begin sak en ‘n skuinste tot by die rivier maak ver onder, staan die rots met die plat bokant soos ‘n stoel wat gereed is om op gesit te word. Sy drentel stadig na die rots, kyk na die insekte wat skielik die wêreld vol kerjakker, hoor die fisante en tarentale krys. Sy sien die voëltjies wat deur die lug vlieg en hulle kos in die lug vang. Sy gaan sit op die rots en kyk na die opkomende son. Spoedig gaan sy vriendelike strale verander in hittegolwe, gaan hy die voggies wat nou soos diamante blink op die stingels en blare wegskroei soos hy besit neem van die elke hoekie wat nie ‘n skaduweetjie huisves nie. Oor ‘n uur of wat gaan hy in al sy felheid neerbak op die dorre aarde en die klippe vuurwarm bak.
Sy kyk af na die rivier. Hy lê soos ‘n groot, blink slang rustig in die oggendson. Geen windjie wat golfies maak nie. ‘n Groot, slapende blink kronkelende streep tussen vaal oewers.
Die slang roer net effens toe sy op die rots gaan sit. Dit pla hom nie want dit is nie kos nie.
Lank sit sy en droom op die rots. Wat sal die nabye toekoms inhou. Sy is ook effens opgewonde oor New Rush. Ten minste kan hulle ‘n ruk lank daar bly. Miskien kan sy iets kry om te doen. Ten minste is daar ander mense. Hulle sê dis ‘n interessante klomp. Boere, Engelse, swartes, Griekwas, bruines en uitlanders van alle soorte.
Baie later hoor sy hoe haar pa roep van die wa af. Hy het vroeër as gewoonlik wakker geword. Sy antwoord nie. Laat hy maar eers behoorlik wakker word. Sy is spyt dat haar rustigheid so vroeg versteur word. Maar na hy ‘n draai geloop het, gaan lê hy weer en is spoedig vas aan die slaap.
Sy het lankal alles op die wa in orde gekry, gesorg vir oorskiet tarentaal en ‘n paar beskuitjies, dit in ‘n bord gesit met ‘n doekie oor, die donkies se kniehalters afgehaal en ‘n ver draai in die veld gestap. Toe het sy gaan sit in die skaduwee van ‘n kameeldoring met hekelwerk. Die dag stap stadig aan na middag. Die son staan bo-op hulle koppe, ‘n vurige bal.
Sy stap later weer na die rots. Die rivier wat so stil lê, het sy eie bekoring. Sy dink aan die duisende druppeltjies wat so saamgevoeg see toe loop. Sy gaan sit weer op die rots.
Hierdie keer is Jasper behoorlik wakker. Hy les sy onbehoorlike dors uit die brandewynbottel wat darem nog ‘n sluk of wat oor het. Hy skree vir Aletta en sy roep terug. Hy kom na haar toe aangeslinger, gaan kort-kort staan om nog ‘n sluk te vat. Hy struikel oor die lae bossies en begin onsamehangend praat van New Rush en hoeveel geld hy gaan maak.
Langs die rots struikel hy oor ‘n klip. Hy val lankuit en die bottel spat uit sy hand. Die slang se pik is ‘n geel streep deur die lug. Twee giftige tande skeur deur die nekvleis, dring die slagaar binne en spuit dodelike gif.
Aletta het nie gesien wat gebeur het nie. Sy laat haar pa lê. Hy sal wel weer opstaan en voortslinger, dink sy. Dis eers toe sy hom hoor roggel dat sy behoorlik omdraai en kyk. Skuim borrel by sy mond uit. Hy suig sy asem in soos iemand wat swaar snork. Sy klim van die klip af. Draai hom op sy sy. Sien die tandmerke en die bloed wat pols uit die slagaar. Sy probeer verward met haar hande die bloed keer. Dis tevergeefs. Sy hardloop wa toe en keer terug met ‘n stuk lap, probeer daarmee die bloed keer. Sy probeer sy voorlyf lig, maar hy is te slap en swaar.
Sy gaan sit langs hom en begin radeloos huil. Sy sien hoe die drank en die gif sy liggaam laat ruk, sien hoe die skuim al meer uit sy mond kom, hoe die vlek op die droë aarde groei. Sy sien hom stadig voor haar oë doodgaan.
Skok vries haar minute lank. Hoendervleis slaan oor haar hele liggaam uit. Sy kyk radeloos rond of daar iemand is wat kan help, maar daar is niemand. Net die natuur gaan sy gang in die helder sonlig, die rivier loop sy rustige loop. Lank sit sy net besluiteloos en grens.
Uiteindelik besef sy dat sy moet voortgaan. Sy moet iets doen. Sy probeer haar gedagtes orden, maar dis vir haar gemoed te veel.
Haar pa moet begrawe word. Sy kyk rond. Waar? Dis net klippe en klipharde grond. Sy stap stadig na die wa, haal ‘n afgeleefde graaf af en staan dan besluiteloos. Na die bome se kant lyk die grond sagter. Deur trane wat onophoudelik vloei vind haar trae gang rigting. Sy val amper oor die hoop grond voor sy dit sien. ‘n Ou erdvarkgat of jakkalsgat vlak by die eerste bome. Dalk sal dit makliker wees om die gat oop te grou as om ‘n nuwe te maak.
Die grond is selfs nog losser as wat sy gedink het, meer gruiserig as solied. Sy grou die gat oop wat skuinsweg in die aarde in loop. Besweet en vuil met traanstrepe oor haar wange kalwe sy die grond weg. Haar arms begin pyn van die inspanning, haar dun klere klou nat aan haar vas.
Uiteindelik is sy tevrede. Hoe nou gemaak om die liggaam hier te kry? Lank dink sy en oorweeg moontlikhede. Dra kan sy hom nie. Sy kan hom dalk sleep maar sal nie ver kom nie. ‘n Donkie wat naby balk gee die antwoord. Sy kry ‘n langerige riem op die wa en vang die makste donkie. Die riem bind sy om die donkie se nek vas en die ander punt om haar pa se voete. Dan lei sy die donkie in die rigting van die graf. Sy probeer nie dink aan hoe die klippe, gras en grond sy liggaam beskadig nie. Sy moet hom in die grond kry. Sy lei die donkie verby die graf en stop wanneer die liggaam langs die graf lê. Sy maak sy voete los. Die grilligste lê voor. Sy rol hom in die graf. Gelukkig val hy gesig na onder. Sy gooi hom vinnig toe.
Sy gaan maak die donkie aan die wa vas. Dan probeer sy die ander drie donkies aankeer. Twee hardloop weg. Sy los hulle. Leeukop kom lui aangedraf. Hy snuffel ‘n bietjie in die rou grond, kyk dan vraend na haar. Sy streel sy massiewe kop.
‘n Halfuur later is sy gereed. Die noodsaaklikste het sy op die twee donkies gepak. Die een ligter omdat sy soms op hom wil ry. Die donkies se tooms is aan mekaar vasgemaak sodat sy hulle kan lei as dit nodig is. Haar pa se gereedskap laat sy net so. Sy kan niks daarmee doen nie. Sy gebruik ‘n bietjie water om haar gesig af te spoel en hande te was. Sy is gelukkig naby die rivier as die waternood te hoog raak.
Die droewige prosessie kom in pas. Sy loop voor en lei die donkies. Op hulle rugge skommel ‘n paar skamel besittings. ‘n Paar potte en bietjie klere, ‘n bietjie meel en biltong en beskuit. Sy bly maar parallel met die rivier. Sy is op pad New Rush toe, waarheen anders? Iewers vorentoe moet sy deur die rivier kom, daar is ‘n drif waardeur ‘n mens maklik kan kom, sê hulle. Leeukop stap rustig saam.
“Tot siens, Pa,” sê sy bitter. Ma, ek het hom nie gelos nie. Sy huil sonder dat daar ‘n traan oor haar wange loop.
Toe dit donker word, rig sy kamp in. Sy bind die donkies aan ‘n kameeldoringboom vas. Hulle vreet gulsig aan die yl grassies onder die boom.
Dis reeds sterk donker toe sy haar aandete gereed het. Sy weet sy moet eet, maar die kos bly dik word in haar mond. Daar is nie meer trane oor om uit te huil nie en sy is bang. Sy kyk in die lug op waar die eerste sterre begin blink. As daar so iets is soos ‘n Liewe Vader, dan moet hy vannag help. Sy trek na ete ‘n kombers om haar lyf en rol langs die vuur om. Slaap wis genadiglik gou die ontsetting en ontberings van die dag uit.
Die maan het al ‘n hele pad deur die lug geloop toe sy wakker skrik.
Die donkies. Eers hoor sy hulle benoud balk. Dan hoor sy die boosaardige gegrom van ‘n tier. Leeukop grom en storm op die tier af. ‘n Paar woeste aanvalle van sy kant, dan hoor sy hom skerp tjank. Dan is hy stil. In die vae lig kan sy sien hoe die een donkie aanhoudend sy agterent draai en met al twee pote skop. Die ander donkie ruk los en sy kan die galoppende pote duidelik hoor. Sy verbeel haar die katfiguur hardloop agter die donkie aan. Dis skielik stil. Sy draai om, trek die kombers oor haar kop en wag vir een of ander aanval van een of ander roofdier.
Dis vannag my laaste nag, dink sy grensloos bevrees.