antdie: 18. Hasepad

Kaptein Hannes Haasbroek antwoord die loods oor sy gehoorstuk onder die geraas deur: “Nee, Eldrich, ek weet ons kan baie tyd spaar, maar ek het die kolonel belowe ons sal padlangs vlieg net vir ingeval ons hulle raakloop.”

Eldrich skud net sy kop verdwaas, “Dit is reg so. Ek sal padlangs hou, maar dit maak net nie vir my sin nie. Dit is net ongeveer 300 kilometer Port Elizabeth toe. Ek waarborg jou, kaptein, hulle het gister reeds hulle bestemming êrens in ons omgewing bereik.”

Hannes rek sy oë verbaas toe hy die enorme obstruksie vorentoe in die pad sien. “Kyk, Eldrich, die kolonel was toe die hele tyd reg. Hoe dink jy het hulle hier verbygekom? Die pad is heeltemal versper. Ek sê jou, hulle het gistermiddag hier omgedraai en iewers gaan oornag om te beraadslaag hoe hulle verby hierdie versperring gaan kom en of hulle ‘n alternatiewe roete moet probeer.”

Eldrich vlieg oor die versperring van verskeie voertuie en ‘n bus oor die pad en maak ‘n wye sirkel en kom weer terug, “Wat is die plan nou, Kaptein?”

“Ons moet nou soos hulle probeer dink. Wat sou ons gedoen het indien hierdie versperring ons geblokkeer het? Vlieg vorentoe, ek wet jou hulle het by ‘n afdraaipad ingedraai en iewers gaan oornag. Dit is nog vroegoggend. Ek dink hulle het ‘n oornagplek gevind en gaan enige tyd opdaag en die versperring kom aanpak. Ons sal elke afdraaipad fynkam. Ek het net die gevoel ons gaan op hulle afkom.”

Eldrich vlieg verder en hulle soek ‘n afdraaipad en Hannes is weer eens eerste, “Kyk, daar is ‘n grondpad wat na regs uitdraai. Volg hom.”

Na ‘n rukkie tik een van die twee operasionele soldate wat agter sit, vir Hannes op sy skouer en toe hy omkyk, beduie die soldaat ondertoe en wys in ‘n sirkel met sy vinger dat hulle moet omdraai en Hannes skree vir Eldrich: “Draai gou, draai! Donovan het iets gesien!”

Die helikopter maak ‘n wye draai en dan sien hulle die opening in die woud waar daar ‘n stompgehuggie byna heeltemal tussen die bome versteek is. Die pad soontoe is natuurlik bedek deur boomtoppe en was dit nie vir Donovan se oplettendheid nie, het hulle verbygevlieg. Hulle vlieg tot regoor die eiland in die woud en Hannes skree opgewonde: “Daar is hulle ses swart Ranger bakkies net soos Hunter hulle beskryf het. Daal laer! Miskien maak hulle hul verskyning om te sien wat buite aangaan, dan kan ons sien.”

Hannes neem sy verkyker en probeer inzoem op die voorste venster om te sien of iemand na buite loer. Hulle het nou redelik laag gedaal en Hannes sien iets by die venster en probeer sy fokus instel. “Daal nog laer, Elrich, ek sien iets by daardie venster. Ek moet net fokus.”

Uiteindelik kry hy die venster in fokus. Hy skrik toe hy hom vaskyk in ‘n skerpskutter wat met ‘n teleskoop op hulle aanlê maar voor hy iets kan sê, hoor hulle ‘n skoot afgaan en amper onmiddellik daarna ‘n blikkerige geluid wanneer die patroon iets aan die agterkant van die helikopter tref.

Elrich skrik en stoot die stang vorentoe, dan links en gee vet sodat hulle skielik styg en begin draai. Nog ‘n skoot klap en weer hoor hulle dieselfde blikgeluid as ‘n patroon iets aan die agterkant tref en dan flikker ‘n rooi liggie op die paneel hier voor hulle saam met die gehuil van ‘n alarm.

Hannes kyk met groot oë na Elrich en sien die paniek op sy gesig wanneer die helikopter in die rondte begin tol. Dit is duidelik hy begin beheer verloor en Hannes skree dringend: “Wat is fout, Elrich?”

Elrich konsentreer hard en kyk paniekbevange heen en weer, maar sien net dennebome en geen opening vir ‘n noodlanding nie. Die helikopter tol al hoe vinniger in die rondte en dan skree hy verskrik. “Daardie skerpskutter ken sy storie! Hy het ons propeller op die stert beskadig wat die kopter stabiel hou. Ons moet so gou moontlik ‘n noodlanding maak terwyl ons nog momentum het, voor ons val soos ‘n klip.”

Hannes skree: “Daar is net bome! Waar die hel gaan ons land?”

 “Gordel vas manne, gordel vas!” gil Eldrich.

Elrich sluit alle krag na die enjin af want dit laat hulle net al hoe vinniger tol. Hulle hoor net die geluid van die propellers wat deur die lug sny en nou begin hulle stadig sak. Hulle tol nog al in die rondte en Elrich probeer reguit ondertoe mik na ‘n spasie tussen die boomtoppe wat onder hulle verby tol terwyl die sirene in hulle ore skree en die rooi liggie flikker. Hulle beweeg tussen die bome in en die propellers begin die boomtakke hier en daar raakslaan en Elrich skakel alle krag af met die hoop om ‘n brand te verhoed. Hulle stort al vinniger neer en dan tref hulle die grond terwyl die propellers hulle laaste momentum in die bosse en struike uitmoker voor hulle uiteindelik tot stilstand kom.

Hannes het in sy sitplekgordel rondgeruk soos ‘n lappop en nou sit hy doodstil; te bang om te beweeg. Sy rug pyn geweldig en hy is nie seker of dit gebreek is nie. Hy kyk na sy hande, beweeg sy vingers en dan sy voete. Alles lyk nog in een stuk. Hy maak haastig sy gordel los en druk af met sy hande. Die kopter het nogal met die regte kant na bo geëindig en hy trek hom uit sy stoel, klim uit en kom stadig orent. Sy rug pyn erg soos ‘n gewrig wat lelik verstuit is, maar hy kan tog met moeite orent kom.

Dan voel hy hande aan sy regterarm en sien Donovan by hom. “Is u okei, kaptein?”

“Ek is okei en julle?”

Hy het dit skaars gesê of hy hoor ‘n gegil van pyn en hulle sien Jonathan oorkant by Eldrich. Jonathan wou hom uithelp maar toe ontdek hulle sy enkel is gebreek want sy voet is in ‘n heel onnatuurlike posisie.

Hannes kyk na Donovan, “Los my, ek is okei. Gaan help jy vir Jonathan om hom uit te kry. Een van julle sal hom moet dra. Ons moet so gou moontlik hier padgee voor daardie huursoldate ons vaskeer. Ons sal later sy voet verpleeg. As gevolg van die getol het ek geen idee in watter rigting is daardie gehuggie nie? Hoe gaan ons weet in watter rigting ons moet wegvlug van hulle?”

Eldrich praat deur die pyn, “Ons was noordwes toe daardie patrone ons stert se propeller getref het.”

Donovan kyk haastig op sy kompas en wys in ’n rigting. “Ons moet in daardie rigting vlug, Kaptein.”

Hulle haas hulle tot by Jonathan en Elrich en trek saam die gillende Elrich uit die kopter. Saam kry hulle rigting noordwes terwyl Jonathan Elrich vooruit skapie dra met Hannes en Donavan wat volg. Die soldate sal beurte maak om hom te dra. Hulle moet net so vinnig moontlik so vêr moontlik hier wegkom.

~*~*~

Twaalf huursoldate nader die wrak van die helikopter en Joss gaan staan. “Hulle het dit sowaar oorleef en weggekom. Kon jy deur jou teleskoop sien hoeveel insittendes was daar, Recce?”

“Die loods saam met ‘n siviele ou voor in en dit het soos twee operasionele soldate agterin gelyk.”

Recce soek al rondom die wrak op die grond terwyl Joss wonder, “Watter rigting sou hulle ingeslaan het? Kry jy ‘n spoor?”

Recce stop by die loods se sitplek en buk, “Drie pare spore maar dit lyk my een ou word gedra, die een spoor druk dieper weg in die grond.” Hy staan op en volg die spore, “Kom volg my, hulle is hierdie rigting in.”

Joss skree bevele, “Reg manne, julle sal versigtig moet wees. Ons maak jag op onder andere twee operasionele soldate en hulle weet dit. Hou julle oë skerp vir booby traps soos ‘n draadjie tussen struike wat ‘n handgranaat se pen uittrek of ‘n skerpskutter wat skuil tussen struike. Hou genoeg afstand tussen mekaar maar bly binne oogkontak. Handhaaf stilte en indien julle iets sien, hurk en wys soos julle geleer is.”

Hy wys met ’n lang arm en ’n voorvinger vooruit.

  “Reg, laat die jagtog begin!”