Die kroeg is stampvol. Die manne sit met groot afwagting. Die volgende nommer is almal se gunsteling. Barry se glimlag strek van oor tot oor Hy het geweet toe hy hierdie nuwe girl aanstel, sy gaan beslis die rande laat inrol.
Skielik is dit doodstil in die kroeg. Jy kan die spreekwoordelike speld hoor val. Die gordyne op die aanmekaar getimmerde verhogie swaai dramaties stadig oop. Die manne staar nou almal groot-oog na die meisiekind wat vanuit die lug neerdaal. Bloedrooi hare, spierwit geklee, agter haar rug is ‘n kontrepsie saamgeflans uit drade en spierwit vere. Terwyl sy soos ‘n wafferse engel na benede daal, blaas sy soentjies vir die gehoor
Sy kruis haar bene. Verleidelik, suggestief.
Van waar ou Snorre die petalje sit en dophou, moet hy erken, die meisiekind ken haar storie. Boonop is sy beeldskoon. Snorre vat nog ‘n sluk van sy bier. Stripjoints is nou nie eintlik rêrig sy scene nie. Sy oë volg die meisie op die verhogie. Sy is nou op die vloer, die lyfie met die verekontrepsie word wulps heen en weer geswaai. By die kroegtoonbank het die manne skoon vergeet om te drink, almal se oë is op die sexy dingetjie op die verhoog. Stadig, verleidelik, wulps, suggestief begin sy ontslae raak van die vereding. Daarna volg die lang, wit, satynhandskoene. Die halo op haar kop maak plek vir duiwelhorings.
Snorre kyk op sy horlosie. Dis amper tjailatyd. Dan vat hy nog ‘n sluk aan sy bier. Weer volg sy oë die rooikop. Hy skud sy kop, praat onderlangs met homself.
“Dit kan tog nie wees nie! Die meisiekind lyk skadeloos. Nee! Dis onmoontlik!” Vir wat hy nou hier van alle plekke waghond moet speel, gaan sy verstand te bowe!
Sy oë gly weer na die erotiese danseres op die verhoog. Hy stik amper in sy bier. Die maagdelike, wit uitrusting het nou plek gemaak vir ‘n wulpse, skrapse, rooi en swart leernommertjie. Hy kyk en kyk weer. Ja wraggies! Daar van agter uit die pragtige paar kaal sterre, gekoppel aan die skrapse deurtrekkertjie, hang ‘n stert soos die duiwel s’n.
“Wat ‘n transformasie,” dink hy, “van spierwit engel tot wulpse, stoute duiwel!” Hy verstaan nou ook waarom die manne so drool oor hierdie meisiekind. Selfs sy oë is nou vasgenael op die wulpse rooikop. Hy verkyk hom aan haar. Wulps, suggestief, eroties dans sy op die maat van die polsende musiek. Haar bo-stukkie waai en ontbloot die perfekte paar borsies. Haastig vat Snorre nog ‘n sluk van sy bier. Die meisiekind is nou besig om soos ‘n kat oor die vloer te kruip, ligvoets, uitlokkend, uitdagend. Skielik tol sy om, die bene word verleidelik gekruis, net so vinnig kom sy weer regop. Nou dans sy om die paal op die verhoog. Met grasiuese bewegings hys sy haarself boontoe, doer bo in die lug gaan knoop sy haar om daai paal, dan gaan daai perfekte bene wyd oop, so asof sy die splits daar bo in die lug doen. Dan tuimel sy af ondertoe, behou haar balans en land perfek op haar hoë stiletto’s. Sy draai nog so paar verleidelike draaie, blaas soene en maak ‘n buiging.
Die ou, vet Griek is amper dadelik op die verhoog. Met ‘n breë glimlag vat hy die meisiekind se hand en hou dit omhoog.
“Kom ons gee ‘n groot applous vir ons showstopper! Angel!” Dit word opgevolg met ‘n hele paar wolwefluite en ‘n dawerende applous.
Ongemerk, uit die hoek van sy oog, hou hy haar dop. Hy weet reeds watter kleedkamer aan haar behoort. Die naam ‘Angel’ is in spierwit-blink, diamanté letters aangebring. Snorre drink die laaste van sy bier. Stilletjies sluip hy ongemerk na agter, waar hy weet sy nou sal wees. Heimlik wonder hy wat die vroumens na haar tjailatyd na middernag doen. Sou dit waar wees? Nee, dit kan tog nie! Sy is so ‘n petite ou dingetjie.
Hy snak liggies na sy asem toe sy uit die kleedkamer kom. Sy is geklee in ‘n spierwit rok met splete wat die perfekte bene ontbloot. Haar rooi hare tuimel golwend oor haar skouers. Die rok vier en omhels haar wulpse, volmaakte kurwes. Hy staar na die prentjie voor hom. Algehele volmaaktheid! Dit is toe dat hy weet!
Vir hierdie engel sal hy alles opoffer as sy hom sou toelaat.
Stilletjies volg hy die wit figuur in die donker stegies. Nou kan hy haar sommer beskerm ook. Hy skrik effens toe nog ‘n figuur van agter ‘n muur verskyn. Dadelik besef hy dat dit ‘n man is.
“Dalk is die man soos ‘n bodyguard vir die dansers,” dink Snorre. Dan hoor hy hoe die man praat.
“Wat soek jy, Angel! Waar is Misty? Ek het spesifiek gevra vir haar! So, waar is sy en wat kom soek jy dan hier?”
“Jy weet goed, Joe! Jy het Misty opgedonner gisteraand. Ou Barry het gevra dat ek moet instaan …”
Die man by Angel se hele houding spreek van wantroue.
“Jy! Moenie laat ek lag nie! Jy dink mos jy is te goed vir ons! Deel mos nie gunsies en gawes uit nie! Wel, aangesien ek betaal het vir Misty, dring ek aan op alles waarvoor ek betaal het! Vanaand leer ek jou sommer maniere ook, Angel!”
Hy gryp na die meisie voor hom. Met nog ‘n beweging word sy gordel losgepluk. Hardhandig word Angel rondgeruk en gepluk.
Snorre is al lank genoeg in die polisiemag om te weet hier kom moeilikheid! Hy wonder of hy die meisiekind moet gaan help. Hy besluit egter daarteen toe hy Angel weer hoor praat.
“Stadig, Joe! Ek belowe om dit vir jou die moeite werd te maak. Kom, ek smag juis so lankal na jou … Dis net, met ou Barry wat my altyd so dophou. Jy weet tog van sy reël oor my …”
Die vent lag uit sy maag.
“Natuurlik! Niemand mag mos aan jou raak nie! Ou Barry se gansie wat die goue eiers lê! Wel, vanaand kom jy by my lê!”
Van waar Snorre hulle dophou in die donker stegie, kan hy aflei dat die meisiekind nie regtig hier is vir die jafel se plesier nie. Nee … sy is beslis hier om heel ander redes. Miskien oor die duistere rede wat hom tot laatnag in die stripjoint moes laat uithang. Uit gewoonte kyk hy op sy polshorlosie. Die neonwysers sê dis lank na sy tjailatyd.
Hy weet dat Martha, sy lywige, ou vroutjie, teen die tyd erg bedonnerd moet wees. Haar tirade moet hy maar vannag verduur; maak tog nie saak nie, vanuit sy oogpunt was vanaand die moeite werd. Hy sug as die beeld van die wulpse engel- duiwel-meisiekind skielik weer sy gedagtes binnedring. Magtig! Die meisiekind laat ‘n man se kwik styg. Weer volg sy oë die twee vryers in die donker stegie. Dit lyk asof die meisiekind die vent nou het presies waar sy hom wil hê. Sy leun suggestief teen hom aan, giggel kokketerig, haar hande vroetel oral oor die vent se lyf.
Skielik stamp hy haar en sy kom hard op die grond te lande. Snorre hoor hoe hy sê: “Genoeg met die games, Angel! Dis tyd om te wys wat in jou steek. Ek soek nou en hier waarvoor ek betaal het! Kom wys vir ou Joe wat jy kan doen!”
Die vent voeg sommer die daad by die woord, die meisiekind word weer hardhandig rondgepluk waar sy op die grond lê. Joe staan nou bo-oor haar, sy gordel in sy hand. Dan word sy ru orent gepluk. Die wit rok word boontoe gepluk. Angel lê nou halfpad oor Joe se been. Die gordel word woes geswaai en genadeloos reën die houe op haar neer.
Snorre kan die duiwelse sadisme nie langer uitstaan nie, maar hy weet ook, hy kan nie nou inmeng nie. Hy is hier om ‘n rede. ’n Engel moet vanaand vasgetrek word. Die lyke in en om hierdie stegies is besig om op te hoop. By elke man se lyk is daar ‘n gegote gipsbeeldjie in die vorm van ‘n engel agtergelaat. Dié spoor het hom gelei tot by hierdie versteekte kroegie en stripjoint.
Dit is asof die meisiekind skielik ‘n tweede asem kry. Sy kom blitsvinnig op haar voete. Op die een of ander manier het sy daarin geslaag om die leergordel by Joe af te vat.
Dié is nou om die vent se nek. Met bomenslike krag trek die meisiekind dit al stywer om die man se nek. Snorre hoor die gedempte kragwoorde wat die man uiter. Sien hoe hy desperaat ‘n poging aanwend om uit Angel se greep los te kom.
“Bliksem! Wie sou kon raai die dingetjie het soveel krag in daai klein lyfie,” dink Snorre.
Dan sien hy hoe ’n blink lem onophoudelik die man deurboor.
Hy gaan oor tot aksie, gryp die meisiekind se hande vas en wring die mes daaruit.
Vir ‘n oomblik druk hy die bloedbevlekte engel teen hom vas. Dan kom sy stem skor: “Maak dat jy wegkom … ek sal sorg vir die res.”
Dan voeg hy by: “Ek is kaptein De Wet, ek belowe om jou te help. Kry my môre na tjailatyd op dieselfde plek.”
Sy knik, maak haar vinnig uit die voete en kaptein De Wet weet: van môre af gaan hy baie later as gewoonlik tjaila!
Ou Martha se tirades oor sy laatkommery is ‘n bysaak.
Saam-saam sal hy en Angel die wêreld verlos van al die skuim.
©Santi Kruger.
Santi Kruger

Ek is Santi en ek is versot op stories maak en dig.
Ek skryf (probeer skryf) in alle genres – ek skryf vir kinders, ek dig en skryf kortverhale. My voorkeur is egter spanningsverhale en rillers. Ek het egter ook my hand gewaag aan ‘n paar humoristiese en romantiese verhale wat ek hoop om in die toekoms met lesers te deel. Ek hoop dat lesers my vertellings sal geniet.
Ek was ook in 2019 betrokke by ‘n liefdadigheidsprojek deur Alta van Zyl van Hope Anointed Ministries. ’n Bundel Spore van Genade was die resultaat daarvan. 40 digters en skrywers se werke is hierin saamgevat en van my gedigte (oor swaarkry, mishandeling, dwelmmisbruik) asook kortverhale kan hierin gelees word. Die opbrengs uit die bundel gaan vir liefdadigheid. Dit is ook by boekwinkels landwyd beskikbaar en ook op Amazon:

