gerdie: 12. Die wraak is myne!

Motor stort by krans af

Mnr Willem Schoonraad, bekende sakeman van Johannesburg, is op slag dood nadat ‘n band van sy motor vermoedelik gebars en hy oor ‘n afgrond gery het. Die ongeluk het laat Vrydagmiddag plaasgevind naby Plettenbergbaai. Daar word vermoed dat mnr Schoonraad op pad was na sy vakansiehuis by Jeffreysbaai. Die pad is berug vir sy skerp draaie en het al meer as een keer ‘n gruwelike tol geëis. ‘n Motoris wat agter mnr Schoonraad gery het, sê hy het iets soos ‘n wolkie by die regter agterband sien uittrek, die motor het gevaarlik geswenk, deur die veiligheidsversperring gebars en oor die afgrond verdwyn.

Hy het stilgehou en gesien hoe die motor teen die kranse afrol. Oomblikke later het die motor aan die brand geslaan.

Volgens die ambulanspersoneel moes hulle lank sukkel om die voertuig aan die voet van die krans te bereik.

Petrus kyk maar met halwe belangstelling oor die berig. Sy aandag is eintlik gevestig op die deur van ‘n manjifieke rykmanshuis in die voorstede van Johannesburg. Tipiese storie. Ek dink my vrou is ontrou. Hou haar dop vir ‘n tyd. Rapporteer asseblief streng vertroulik aan my. Jy weet, ek het nogal ‘n posisie om aan te dink. ‘n Skandaal soos dié kan my kos. Wat hy nie bysê nie, is dat hy en sy sekretaresse ‘n heerlike naweek by die Loskopdam gehad het.

Maar geld is geld. Daarvan moet ‘n mens lewe. En dis wat Karin wil hê. Waarvan sy nie genoeg kan kry nie. En hy word natuurlik betaal, derduisende. Geen navraag oor sy fooi nie, dikwels harde kontant. Hy moet net resultate toon. En dit doen hy.

Sy outomatiese kamera klik onophoudelik toe die paartjie hulle verskyning maak. Hulle loop ingehaak teen die trappe af wat van die parkeerplek opwentel na die stoep. Op die gelyk parkeerterrein wag reeds ‘n taxi. Sy soen hom met oorgawe, druk hom styf vas, vryf oor sy donker hare en hulle hande bly aan mekaar vasklou tot hy in die taxi verdwyn. Sy waai nog agterna.

Hy wag tot die taxi vertrek het. Sy draal nog op die terrein rond en begin dan aanstap oor die gruis na die tuin. Sy pluk ‘n roos en druk dit in haar hare. Dan draai sy ‘n paar keer in die rondte en verdwyn om die hoek van die huis.

Hy haat die werk met ‘n vurige haat. Om ure lank in sy kar te sit en wag net om foto’s te neem van ‘n buite-egtelike flirtasie, was nooit sy idee van speurwerk nie, maar dis Karin wat aangedring het. ‘n Speurder in die polisiediens verdien te min, het sy aanhoudend geargumenteer. Jy kan tien keer soveel verdien as jy privaat werk. ‘n Man met jou talente en ondervinding kan nie sy lewe slyt met treurige polisiewerk nie.

Halfpad was sy reg. Die polisiesalaris was sleg. Hulle het in ‘n minder gegoede voorstad gewoon. Karin het by die dag meer stuurs geword. Soos ‘n sonbesie het sy maar altyd dieselfde deuntjie gesing, tot gekwordens toe, veral na die saak van die bankroof wat hy volgens almal so skitterend opgelos het.

Hy het bedank en sy eie praktyk begin. Hy was verstom oor die reaksie op sy advertensies. Soveel ryk ouens met soveel om uit te vind of weg te steek. Hulle het na ‘n beter voorstad getrek en na sy pa se dood met so ‘n bietjie erfgeld en die wins op sy huis, kon hy in ‘n gegoede woonbuurt laat bou. Dubbelverdieping, swembad, onthaalvertrek, noem dit. Dit het hom darem ook ‘n soort bevrediging verskaf. Hy het méér geword as sy kollegas, meer geword as net roetine speurwerk.

Maar dié soort ding verpes hy. Hy haat ontrouheid, omdat dit so deel van sy eie lewe is. Vir die oomblik is hy vasgevang. Sy werk betaal sy duur huis, sy duur kar, sy duur vrou.

Hy skakel sy kar aan en kies koers huis toe. Die son sak in die weste.

Hy sal more die foto’s ontwikkel en aan sy kliënt rapporteer.

By die huis tref hy Karin en Stefan in die kombuis aan. Stefan sit in sy eetstoeltjie en is besmeer van sjokoladeroomys.

“Hallo Pappa,” roep Karin uitbundig, “kyk hoe lekker het ek geëet en gemors.” Sy krap klein Stefan se hare deurmekaar. “Kyk hoe lyk jou snoet! Pappa sal jou nie eers wil soen nie.”

Die dag se mismoedigheid verdwyn. Karin kan meteens die wêreld in ‘n towerdroom omskep. Hy kom nader en soen Stefan deur die sjokolade op ‘n nat, laggende mondjie.

“Jou klein vabond. Ek sal jou etiketlesse moet laat neem. Sies, wat ‘n gemors!”

Hy kielie die kleinman onder sy arms. Klein Stefan kraai van plesier.

“Kom, ons gaan jou gou bad en dan in die bed. Dis waar klein soet seuntjies hoort.” Sy knipoog vir Petrus, gryp Stefan uit sy stoeltjie en verdwyn na die badkamer. Hy stap na die sitkamer en maak ‘n bottel Shiraz oop. Sy hou van Shiraz. Toe hy op die rusbank gaan sit, hoor hy hoe kraai Stefan van plesier in die bad.

Toe sy later met haar glasie wyn in die hand styf, warm en onweerstaanbaar teen hom sit, sê sy saggies: “Ek het na jou verlang vandag.”

Karin! Karin!  Ek kan jou nie hou nie, maar kan jou nie los nie. Jy toor met my. Ek is soos ‘n gevangene. Jou net is netjies om my gespan en jy kan met my maak soos jy wil.

“Ek gaan bad,” sê sy ‘n rukkie later. “Moenie dat ek te lank vir jou wag nie.” Sy knipoog vir hom en stap dan na die trap wat oplei na die slaapkamergedeelte. Hy skud net sy kop en glimlag. Dan sit hy agteroor en ontspan. Sy gedagtes fladder terug in die verlede. Ja, die bankroof het tog ‘n groot verskil in sy lewe gemaak. Dit was ‘n soort keerpunt.

Hy was baie bly toe die saak aan hom toegewys is. Hy was jonk, intelligent, entoesiasties. En op Karin se aandrang honger na erkenning en bevordering. ‘n Klompie oulike speurwerk, eintlik meer donkiewerk wat hy nougeset uitgevoer het, en ‘n paar uitgetrapte skelms vasgetrek het, onder andere die geslepe Karel Greeff, het hom onder die aandag gebring. Karel se inhegtenisneming was eintlik net ‘n groot plesier na sy moeitevolle arbeid. Vir dae het hy die obskure kroeg dopgehou waar hy slegs ‘n vae vermoede gehad het dat Greeff daar sou aankom. Hy glimlag as hy steeds Greeff se verdwaasde blik onthou met groot ongelowige oë in ‘n bleek gesig. Hy het nie eers probeer weerstand bied nie, maar gedweë saam met Petrus met geboeide hande gegaan.

Die bevelvoerder het gesê dat dit ‘n groot uitdaging vir so ‘n jong man is, dat daar geen leidrade is nie, dat daar dalk mense in die bank is wat saamgewerk het, dat dit Rothwell se gebou was.

Die naam Rothwell het sy ore laat tuit. In die wêreld van bedrog en skelmstreke, omkopery en afpersing was dié naam glad nie onbekend nie. Maar Rothwell was onaantasbaar. Al het almal geweet of ten minste die sterkste vermoede gehad dat Rothwell betrokke was, meer nog, die brein was in menige ongure saak, kon hulle nie ‘n vinger op hom lê nie. Daarvoor het hy al sy spoortjies goed getrap en as dit nodig was, betyds uitgevee. En hy het ‘n uitgeslape prokureur.

Rothwell se gebou. Die tyd wat dit sogenaamd leeg gestaan het, die perfekte beplanning en uitvoering van die roof, die feit dat alle geld spoorloos verdwyn het, dat alle spore weer netjies doodgevee is, het alles vir hom net een ding voorspel: Rothwell! Hierdie keer gaan mnr R sy moses teenkom.

Maar dit was nie so maklik nie. Al die verdagtes het eentonig by hulle stories gehou en hulle alibi’s het geklop. Hannes, die bouer, se meisie het getuig dat sy die aand na haar ma toe is, Hannes was by die rugby. Sy het later teruggekom, in die bed gekruip so teen tienuur se kant, skat sy, en hy kort daarna. Hy het na drank geruik. Nouja, dit was rugby en die manne het in die kroeg gekuier. Dis al. Die kroegmanne sê die plek was so vol na die rugby, hulle kon hom daar gesien het.

Hy het ure gesit en gegewens oor Rothwell gesif. Koerantverslae, polisierekords, alle getuienis wat hy in die ondersoek opgedoen het. Sy groot maat, Schoonraad, is ook skatryk met belange oral in die land. Net so ‘n glibberige vent. En sy prokureur, Rhoode, een van die bekendste en bekwaamste in die bedryf. Sy saak teen Rothwell, as daar ooit ‘n saak sou kom, sou waterdig moes wees. Geen staatsaanklaer sou naastenby waag om met swak getuienis R en sy maats in ‘n hof aan te durf nie.

Terug na die gebou. En terug na die na die ou van die personeel wat kon saamwerk. Die  enigste verdagte was ‘n gefrustreerde senior klerk wat nie verder bevorder sou word nie. Maar ook hy het onwrikbaar gehou by sy storie. Hy doen net sy werk, al die jare nog. Hy moet oor ‘n paar jaar aftree, hoekom sal hy hom nou by so iets laat betrek. Vra maar die bestuurder …

Maar die bestuurder het nie van hom gehou nie. Tewens hy het gewens hy kon van die treurige vent ontslae raak, daarom het hy die suspisie by die speurders probeer aanblaas. Helaas nie genoeg vir ‘n skuldigbevinding nie. Die geld was weg. Die geld in besit van iemand was getuienis. Daar was niks.

Terug na die gebou. Daar moes iewers iets wees wat hulle misgekyk het. Vir die soveelste keer. Eers weer na die venster aan die sykant van die gebou. Die ruit is van buite af gebreek. Spore? Met die reën uitgewis. Dan aan die binnekant. Teen die agterste muur. Spore in die stof, almal gladde spore van outydse tekkies. Geen prominente of verdagte spoor nie. Geen vingerafdruk êrens nie. Netjies beplan, netjies uitgevoer. Weer na die venster.

En dan sien hy wat hy vroeër moes gesien het. Die gebrek aan spore by die venster aan die binnekant.

“Konstabel,” roep hy opgewonde, “gaan uit en klim deur die venster.”

“Wat?”

“Asseblief. Gaan klim van buite af vir my deur die venster soos die boef dit sou doen. Ek wil sien wat gebeur.”

Die konstabel het sy kop geskud en na buite geloop. Toe was hy by die venster. Hy het bietjie gesteun om op die vensterraam te klim. Dit was nie so hoog dat dit ongemaklik was nie, maar ook nie so laag dat ‘n mens sonder om te sukkel daardeur kon stap nie. Die konstabel het op sy hurke  op die vensterbank gesit en toe na binne afgespring. Stof het onder sy skoene uitgeslaan.

“Mooi,” het Petrus gejuig, “ek het dit. Niemand het deur die venster gekom nie. Die deur is gewoon oopgesluit nadat die venster vir die skyn gebreek is.”

“Hoe nou?” Die konstabel was verbaas.

“Kyk waar jy geland het, hoe het jy duidelike spore in die stof getrap. Sien jy ander spore?”

Die konstabel het sy kop geskud.

“Dit beteken net een ding. R en/of sy manne het hier kom oes.” Hy was absoluut oortuig daarvan. Hy moes net die bewyse kry.

Hy sou op R moes inzoem. Hoekom die gebou gebou? Hoekom skielik met vakansie tydens die rooftog? Wie het sleutels van die gebou gehad? Wie kon medepligtiges gewees het? Wie in die bank kon gehelp het?

Hy het besluit op ‘n senuoorlog. Tydig en ontydig het hy by R opgedaag om nog vrae te vra, om nogeens verklarings af te neem, om nog besonderhede na te gaan. Onbenullighede soos: hoe lank het die bouwerk geduur, wie het die planne opgestel, kon die tekenaar geweet het van die bank se kluis, wie almal was betrokke by die projek, kan hy weer ‘n sleutel kry om nog ‘n slag na die toneel te gaan kyk.

Rhoode was elke keer by. Hy het naderhand gedreig dat hy ‘n hofbevel sal kry om R nie meer lastig te val nie. Toe het hy sy troefkaart gespeel.

“Ek dink ek het nou genoeg getuienis om die saak na ‘n kant toe te laat gaan. Goeienag menere,” het hy een aand vir hulle gesê. Maar hy het niks gehad nie,  net sy vaste oortuiging dat R sy man was.

En toe skielik ‘n deurbraak. “Gaan praat met Jan Diergaardt,” het die ou gesê. “Ek het vandag in die koerant gesien jy het nog geen verdagtes nie. Jan was gisteraand in die kroeg nogal vol stories oor wat hy die aand van die rooftog gesien het. Ek dog ek sê maar net. Hy sit gewoonlik saans in die Royal.” Die ou wat hom op die sypaadjie voorgekeer het, het weer tussen die massas van die huistoeganers verdwyn.

Jan was nie ‘n betroubare getuie nie, maar dit was al wat hy gehad het. In die hof sou Jan verkrummel. Maar vir ‘n dop of twee het Jan gesing en gefluit.

“Meneer, kyk ek weet ek vat altyd ‘n dop of twee te veel. Maar daardie aand. Ek het maagpyn gehad en kon nie veel drink nie. Toe, so tienuur se kant, is ek uit en ek loop huis toe. En ek moet nou verbygaan daar waar hulle nou die gebou gebou het. Maar ek loop aan die ander kant van die straat. Toe ek so ‘n blok van die gebou af is, sien ek die bakkie staan. Alleen in  straat. Ek dog: wat staan die bakkie so alleen in die straat, netnou steel hulle die ding, want daar is nie huise of woonstelle of winkels nie, net kantore en dié se ligte is almal af. So, wat staan die bakkie so allenig? Maar ek loop verder oor die straat en toe ek omtrent regoor die gebou kom, gee my blaas ‘n draai en ek moet pie. En ek glip in ‘n gangetjie en ek pie en daar kom die ou by die gebou uit met ‘n sak en hy sluit die deur en hy kyk rond en hy loop oor die straat en hy klim in die bakkie en ry. Ek dog die ou het maar laat gewerk, of so. Eers toe die manne in die kroeg vertel van die geld, toe dink ek, maar ek het die ou gesien met die sak geld daar uitkom en toe dink ek, ja, dit was mos die bouer se bakkie wat ek daar gesien het, want ek het mos baie daar verbygeloop toe hulle nog gebou het. En ek kan sweer dis dieselfde bakkie. As julle die ou vang en die geld kry, sal die bank darem vir my iets gee?”

Hy was oortuig dat al het Jan nie gelieg nie, dit nie die werk van een persoon was nie, maar dit was ‘n begin. Die bouer kon dalk deel van die plan gewees het. Die feit dat hy ‘n sleutel gehad het en vrye toegang, was die skamele feite waarop hy sy saak sou bou.

Op ‘n goeie Maandagoggend het hy Hannes van Velden in hegtenis geneem. Hy het gehoop dat hy onder druk met die hele sak patats sou uitkom. Die koerante het hom lof toegeswaai. Knap speurwerk.

Maar Hannes het nie geknak nie. Hy het eenvoudig by sy storie gebly. Rothwell het grootmoedig aan die koerante gesê dat aangesien hy Hannes as ‘n werknemer beskou en geglo het in sy onskuld, hy deel van sy regsonkoste sou betaal.

Hy het Rhoode na Hannes gestuur.