gerbli: 2. Aletta

Die donkies is gedaan geswoeg na die dag se trek. Salpeter slaan op hulle lywe uit. Hulle vorder so stadig deur die ruigtes wat skaars ‘n pad is, dat hulle net gaan staan toe Jasper skree dat hulle moet stop. Moeg hang hulle koppe en slap die trektoue.

Aletta klim van die wa af. Sy het vir ure langs die wa geloop om darem die vrag ‘n bietjie ligter te maak, maar laatmiddag het sy weer opgeklim, te moeg en songebrand om verder te gaan.

Haar pa is soos ‘n besetene. Vandat hy New Rush in sy kop gekry het, kan niks hom keer nie. Sy moet dit ontgeld. Die donkies moet dit ontgeld. Die arme hond moet dit ontgeld. Al langs die groot Gariep op oor haas onbegaanbare paaie. En nou langs een van die sytakke ‘n paar dagreise ver van New Rush af.

“Hulle sal my nodig hê. Ons kan goed leef daar.”

Jasper is ‘n skoenmaker en –hersteller. Hy en sy dogter trek van plaas tot plaas, van dorpie tot dorpie, van sendingstasie tot sendingstasie met sy maer donkies en flenterwa. Waar hy ‘n staning kry, span hy uit en maak skoene heel, maak soms op bestelling nuwe skoene en stewels, koop velle op. Gewoonlik al met die weskus op, maar vandat die diamant se glinster in sy oë begin blink het, foeter hy binneland toe.

Aletta ken die patroon maar al te goed. Die donkies word uitgespan en gekniehalter. Sy pak die potte af en begin solank ‘n vuur aanmekaarslaan. Sodra hy goed brand, sit sy die driepoot oop en hang ‘n potjie oor die vlamme. Dan begin sy die verdroogde groentetjies wat sy met groot sorg saamry, afskil en in ‘n bakkie sit. Gelukkig het sy by die vorige staning langs die rivier genoeg water in die karba’s bymekaargemaak. Die hond, Leeukop, moet nou sy ding doen. Hy lê reeds hoeka plat op sy pens naby ‘n swermpie tarentale, roerloos asof hy diep slaap. Die tarentale wei rustig al nader aan hom. Die son lê laag op die horison, ‘n groot oranje bal, moeg na sy vurige werk van die dag.

Opeens die skerp gesketter van ‘n tarentaal. Leeukop is reeds halfpad op pad na die swerm. Die tarentale kyk nog eers of hulle gevaar sien in die helder lig van die son, toe hy onder hulle invlieg. Die eerste vette byt hy met een hap dood en voor die res kan wyk, spring hy op ‘n tweede en gryp hom aan die nek. Die tarentaal gil lustig en raak dan skielik stil.

Jasper stap met ‘n tevrede glimlag en maak die tarentale bymekaar. Leeukop blaf opgewonde en sirkel om hom.

“Mooi so, oubaas se Leeukop. Vanaand is die aand wat ek en jy lekker fees vier.”

Windaf slag hy die tarentale en ontveer hulle. Die groot tarentaal kom in die pot, die ander se pote word vasgebind en aan die wa opgehang. Hy moet ook nog vanaand in die pot. Die vars vleisreuk kan ondiere lok. Hy weet hier is tiers in die omgewing, maar daar is ook jakkalse en ander ongediertes wat lus vir ‘n stukkie rou vleis.

Maar terwyl Aletta die tarentaal en groentetjies gaar maak, is dit tyd vir hom en sy karba. Dis sy groot swak, die karba’s met goedkoop brandewyn. Cape Smoke noem hulle dit. Onbehoorlik potent. Met sy skoenmakery kon hy goed verdien het, maar die meeste geldjies loop deur die pens van ‘n karba in sy keel af.

Aletta steek later ‘n lantern aan en hang dit naby die vuur aan die wa. Jasper sluk een groot sluk na die ander uit sy selfgemaakte blikbeker en voel hoe die weldadigheid deur hom spoel. Een van die dae is hy ‘n ryk man. New Rush sal daarvoor sorg. Hy sing uitgelate ‘n paar vals note. Aletta staan en kyk na die son wat net ‘n skrefie bokant die horison uitsteek. Sy weet hoe vinnig die donker kan toeslaan na skemer. Sy kyk ‘n slag in die pot, roer die vuurtjie aan en krap dan haar kooigoed uit die wa en maak vir haar bed op onder die wa.

Dan gaan skep sy op. Blikborde en vurke, dis omtrent al wat hulle het behalwe ‘n paar lepels en ‘n enkele skerp mes. Sy onthou haar oorlede ma se duur porselein en silwer messegoed. Dis lankal deur die karba soos bykans al hul besittings.

Sy haat hom. Sy haat die lewe saam met hom. Sy haat sy brassery, sy haat dit om na die onversorgde, vuil figuur te kyk. “Los hom,” het Jemima op een van die sendingstasies langs die rivier gesê, “laat hy self aansukkel. Hoekom laat jy jou so verrinneweer?”

Los hom, het sy al baie keer haar vas voorgeneem, maar dan verskyn die bleek gesig van haar moeder op die spierwit kussing voor haar. Sy was toe sestien.

Tussen die hoesbuie deur het haar ma hees gefluister: “Moet hom nie los nie, belowe my.”

Sy het weggekyk want toe reeds het sy hom gehaat oor wat haar ma moes deurmaak onder die drank. Haar ma het ‘n brose hand in hare gelê.

“Belowe. Jy los hom nie. Hy kan nie op sy eie nie, hy’s nes ‘n klein seuntjie.”

“Maar hoekom …” Die verbittering het erg deur haar stem geslaan.

“Omdat ek vir hom lief is. Liewer as vir my eie lewe. Dis die Vader se wil. Moet hom nie los nie. Kyk agter hom.”

Haar oë wat reeds dof geword het, het gesmeek. Dit was stukkend in Aletta. Sy het haar kop geknik en aan die huil gegaan. Haar moeder het haar oë rustig toegemaak.

Die galop van ‘n perd is ‘n vreemde geluid in die stilte van die skemering. Dis duidelik dat dit al nader aan hulle staning kom. Jasper spring vinnig op en bêre sy karba. Dan krap hy rond vir ‘n afgeleefde ou voorlaaier. Net om skrik te maak. Die ding het jare laas geskiet en hy het buitendien nie kruit nie.

Die ruiter doem in die laaste skemerlig op die horison naby hulle op. Vir ‘n oomblik hou hy stil, maar dan dreun die hoewe weer, rustiger die keer. Naby die wa hou hy die perd in, kom met ‘n stappie nader. In die lig van die vuur en lantern sien hy die ou man en die jong meisie. Die perd trippel tot by die wa.

“Goeienaand,” roep hy. “Ek is bly ek sien mense. Is al heel dag op die perd se rug. Gee oom om as ek ‘n bietjie afsaal?”

Hy is sterk en donker met swart hare en ‘n netjiese snor. Sy stem swaar en sterk.

“Naand Neef,” antwoord Jasper en sit die geweer neer. Daarvoor is daar geen rede nie. Die man lyk netjies genoeg en in sy een saalsak het Jasper blitsvinnig gesien wat hy graag wil sien. “Ja, jong, saal maar af. Waar ry jy die tyd van die aand rond?”

Hy wip uit die saal en kom met ‘n uitgestrekte hand nader. In die lig kan hulle hom beter takseer. Netjiese duur klere, rystewels, netjiese onderbaadjie aan.

“Ek kom daar van New Rush af,” sê hy terwyl hulle hand gee. “Stefaans Verhoef is die naam.”

“Jasper Steenekamp, en dis my dogter Aletta. Aangenaam, neef.”

Jasper is die joviale self. Hy is reeds vrolik van die brandewyn en hier is iemand uit New Rush. Dis ‘n grote geluk.

“Kry vir die man ‘n veldstoeltjie, Aletta. Daar is seker genoeg vir ons drie in die pot ook.”

“Dankie Oom, miskien bietjie later. Ek het vroeër beskuit en biltong geëet. Ek saal gou af.”

Stefaans het genoeg gesien en gehoor. Die ou man het al goed gekuier, dalk sy dogter ook. Sy is ‘n pragtige meisie, met dun klere aan wat die volle rondheid van haar vroulikheid tentoonstel. Hy is al so lank van die huis af weg.

Hy haal ‘n bottel brandewyn uit die een van die saalsakke.

“Ek en oom kan nou sommer ‘n bietjie lekker kuier,” sê hy toe hy op die stoeltjie gaan sit, sy oë begerig op Aletta.

“Ja, neef Stefaans. Ek wil alles hoor van New Rush. Ek is juis op pad soontoe. Wil daar gaan afsaal. Ek is skoenmaker van nering, jy weet. Dink jy daar sal genoeg werk wees vir my.”

“Vir seker, Oom. Hulle swerm van oraloor New Rush toe. Daar is baie voete wat skoene moet kry. Ja, oom behoort daar goed te doen.”

“Dis wat ek ook sê. Hoor jy, Aletta?”

Sy sê niks. Sy is net bewus van die man se donker blik wat die klere van haar lyf af wil kyk. Vanaand sal sy vir haar self moet sorg. Katryn, ‘n ou Griekwavrou, het haar destyds al gewaarsku.

“Jy’s mooi,” het sy gesê, “baie mooi. Maar mooigeid kan ôk ‘n straf wees. Die mans wil almal by jou lê. Jy sal moet keer om vir die een wat die regte een is, te gee wat hom toekom.”

Sy het nie alles toe verstaan nie, maar soos die mans by haar aangelê het, al beter verstaan. Die man voor haar maak haar bang.

“En waarheen is jy op pad?”

“Daar diep in die Karoo, Oom. Ons het ‘n groot plaas daar maar die droogte het ons ook maar gewurg. Toe het ek en my broer ‘n kleim gaan koop op New Rush. Dit gaan goed, maar ek moet nou eers huis toe om vir die mense daar te gaan sorg. My broer gaan aan op New Rush.”

Die bottel nader vinnig sy einde. Jasper se tong sleep reeds swaar en Stefaans laat hom drink. Hyself proe-proe net maar hy drink met sy oë.

“Ek gaan inkruip. Nag Pa, nag meneer Verhoef.”

Haar pa groet haar skaars. Stefaans staan op en steek sy hand uit. Sy vat dit huiwerig. Die drukkie is betekenisvol. Sy ril innerlik. Die sekelmaantjie skuif agter ‘n wolkie in. Dis donker.

Sy hoor hulle praat en praat. Sy hoor hoe Stefaans nog ‘n bottel gaan uithaal. Sy hoor hoe haar pa se stem al langsamer raak. Dan sluimer sy in.

Die jakkals tjank ver en eensaam. Maar dis nie wat haar wakker gemaak het nie. Dis ‘n sagte geskuifel langs haar kooigoed. In die agtergrond hoor sy haar pa snork. Sy skat dit moet al goed na middernag wees.

Sy skrik vir die sagte fluister naby haar oor. Haar binneste krimp ineen. Sy hoor nie wat hy sê nie, voel net hoe sy hand oor haar skouer na haar bors toe gly.